‘n Plan is ‘n Boerdery.

Januarie is die maand vir goeie voornemens – nou ja, hier is ons s’n:

Om nie ons ore aan enigiemand uit te leen nie. Ons het jare gelede 5 van ons beste, sterkste vrugbaarste koeie verkoop op openbare veiling. Hoekom? Want hulle het draadgespring. Vandag weet ek, die beste koeie sorg vir hulself. As hulle draadspring, kyk ek anderkant toe, of skuif die hele trop oor. Partykeer kan welbedoelde raad groot skade aanrig – in ‘n boerdery, in elk geval.

Om nie ou koeie uit die sloot te haal nie. Gedane sake is geskiedenis. Dit het gebeur, en die beste wat mens nou kan doen, is om vorentoe nie dieselfde fout te maak nie. Bella kan nie weer teruggebring word nie, maar ons het gelukkig nooit vir Belladonna verkoop nie – nog ‘n geswore draadspringer. En sy gee steeds pragtige kallers – maak nie saak of sy binne die kamp of daarbuite is nie.

Om die bul by die horings te pak. Amper al genl. Koos se kallers het met pienk neuse in die wereld gekom – en dit beteken swak pigmentasie, wat weer lei tot geneigdheid tot sonbrand. Hy was so ‘n mooi bul, sonder enige probleme, maar op die ou end moes ons maar die besluit neem, en hom EN sy kinders verkoop. Moenie uitstel om ‘n fout reg te stel nie.

Om die sukkelaars dubbel kans te gee, want agteros kom ook in die kraal. Moenie sommer moed opgee as iets lyk of dit reg wil kom nie. Daardie koeitjie met die ontsteekte oog, die versie wat haar been beseer het, die hanskalfie met die boepens – het almal op die ou end die paal (of die kraal) gehaal. Aanhouer wen!

Hoe sê hulle?

‘n Plan is ‘n Boerdery.

Alles van die beste vir 2019.

Nguni-koeie in die groen veld saam met wit reiers.

Toe Oupa ge(s)lag het…

Ek wou julle nog vertel het van die dag toe ons as kinders vir die eerste keer vir oupa help bees slag het. Ons het so gelag dat ons skaars die pens kon vashou. Watter pens? Die bees se pens natuurlik!

Oupa was ‘n goeie skut, en het die koeitjie onder ‘n gerieflike boom in haar spore laat neersak. Maar teen die tyd dat ons alles mooi onderstebo opgehys het en die vel afgeslag het, raak dit net mooi donker… en donkerwerk, soos julle weet, is konkelwerk.

Ons het lank gespook in die kar se ligte — daardie tyd het niemand nog die kopflits uitgevind nie. Dit was net mooi sny en fyn kyk vir die galblaas, want o wee, as daar iets is wat jy nie moet raaksny nie, is dit nou daardie vuilgroen orgaantjie…!

Ek sal nooit vergeet nie hoe oupa naderhand bo-op die staanleer gebalanseer het, met sy arms vollengte agter die bultende binnegoed weggesink, terwyl ons ander al giggelend die binnegoed van onder af probeer stabiliseer… of so iets. Hoekom al die nonsens? Want die lawwe besigheid het agter die borsbeen vasgesit en… nou ja, kom ons erken dit maar: Oupa het bietjie vergeet hoe…

Lang storie kort, die vleis het niks oorgekom nie, geen vingers het in die slag gebly nie, en die galblaas is ongeskonde verwyder.

En daardie vleisies… het vorentoe gesmaak.

My Oupa is my held.

 

(Haai…!! ons mis julle vriendelike belangstelling

Kom loer gerus in by ons FB- groepie  https://www.facebook.com/groups/330819803958478/ )

 

 

 

 

 

Die krag is af — die vrieskas vol. Wat nou?

Die krag gaan af — en bly af. Hoe nou gemaak met my vrieskas vol vleis?

Braai en eet alles op. ALLES. Nou. (Jy sal dalk vir die volgende paar weke nie vleis kan aankyk nie, maar dan is dit nou maar so.)

Hokaai! Dis nie nodig nie. Eet lekker, vir langer. Hier is ‘n paar goeie planne:

1. Gebottel

Maak die vleis in, in bottels. Ja, dis moontlik! Lees bietjie hier. Sorg net dat jy die regte gereedskap gebruik (ongelukkig kan dit bietjie lastig raak om ‘n ‘pressure-canner’ in SA in die hande te kry).

2. Gesout

So oud soos die berge – en glad nie moeilik nie. Vir beginners (soos ek), hier is ‘n oulike videobrokkie.

3. Gedroog

Dehidreer die vleis: sny dun repies, marineer en droog stadig teen ‘n lae hitte in die oond. Die yankees noem dit Jerky. (Jy kan glo ook ‘n elektriese- of son-droeër gebruik. )

4. Gevriesdroog

Een van die beste maniere om vleis te preserveer. Vangplek: jy moet ‘n vries-droër aanskaf – en dit kos amper ‘n arm en ‘n been. Maar wie nie waag nie, wen nie. (Amper enigiets kan gevriesdroog word).

5. Berook

Mense wat vleis berook, doen dit gewoonlik omdat dit so lekker is, eerder as om te preserveer. So dien dit ‘n dubbele doel. Dis nie eers nodig om ‘n duur apparaat te koop nie, bou sommer jou eie rook-oondjie. Chop-chop! (Wie sal my kom help?)

6. Ge-‘biltong’

Wie ken nou nie hierdie boere-lekkerny nie? Maar hier is ‘n skakel spesiaal vir die yankees.

7. Gepekel

Week jou vleisie in ‘n eenvoudige mengsel van water, sout en suiker (opsioneel) vir ‘n hele paar weke aaneen. Stoor daarna by kampertemperatuur (verkieslik ‘n koeler kamer). Geniet! Lees meer daaroor hier.

8. Ge-’vet’

Gebaseer op die beginsel dat die vleis wat geïsoleer word van bakteriee en suurstof lank goed. Ek weet dat die boeremense hierdie metode gebruik het – maar die kennis het sedertdien verlore gegaan. As jou ouma nog weet hoe, vertel ons, GROOT asb!

9. Rilette

Amper iets soos ‘n vleis-smeer, en baie lekker, glo ek. As dit op die regte manier gemaak word, kan dit tot ‘n maand hou. Gaan kyk bietjie hier.

10. Suikerstroop

Weereens, isoleer die vleis. Pak dit binne-in suikerstroop, seël die bottel en siedaar – die vleisies bly baie langer goed. Vir die wat hou van… soetvleis.

Julle is welkom om te kom saamgesels op ons FB-groepie oor hierdie fassinerende onderwerp.

Bruin het nie geweet nie.

Ek moet erken – boerdery is nie vir sissies nie.

Hier het ons nou pas ‘n pragtige dier verloor – een wat vir ‘n bul gemerk was, want Bruin was regtig mooi – geen teken van siekte nie. Miskien het hy stadiger geloop, of pyn gehad erens – ons kon daar niks van bemerk nie. Net skielik…. dood.

Hy was nie siek nie. Maar sonder dat ons dit kon sien, was sy hartspier ernstig  aangetas. Want Bruin het ‘n giftige plant gevreet.

Ons het al vantevore diere aan gifplante verloor. Mens raak dit nooit gewoond nie. En jy werk hard om te keer dat dit weer gebeur. Spandeer sekere tye van die jaar lang ure in die veld om gifplante uit te kap met die hand, want om gif met gif te bestry maak net nie sin nie.

Dit voel partykeer asof mens se lewe draai om gif of nie gif nie. Reg eet of nie reg eet nie. As mens praat van GIF, kom die prentjie op van ‘n klein bruin botteltjie met ‘n etiket. En die klassieke doodshoof-prentjie wat ernstig waarsku: GIF!

Maar in die tyd wat ons leef kom gif dikwels in die vorm van heel onskuldige preserveermiddels, geurmiddels, kleurmiddels. Alles wat kos LEKKER laat ruik, lyk en smaak. En lank laat ‘goed’ bly op die rak. Geen etiket wat waarsku GIF nie. Geen doodshoof-teken nie. Jy kan eet en geniet, tot die laaste happie, sonder om te besef wat jy jouself aandoen. Soos hierdie arme dier.

Gif is mos soos ‘n dief in die nag. Hy doen sy vernietigingswerk in die donker, wanneer die wagters op hul wagposte gaap en die poorte oopstaan. Gif in kos? Wie gooi nou gif in kos? Wie wil nou wins maak uit ‘n ander een se ellende?
En dan die ironie van ons beskaafde wereld – dat ons gif met meer gif wil bestry. Pille op pille op nogmaals pille.

Gif akkumuleer. Die hartspier (senuweestelsel, endokriene stelsel…) raak onherroeplik beskadig, en onderdrukkers en pynpille het weldra geen effek nie. Die arme liggaam kan eenvoudig nie meer ‘n druppel GIF hanteer nie….

Arme Bruin. Hoe moes hy ook nou weet.

WEES INGELIG oor wat jy eet.

Hoeveel sterte het ‘n vis?

Een aand toe ons aan tafel sit, vra my jongste uit die bloute:

“Ma, hoeveel sterte het ‘n vis nou eintlik?”

Ek sit gewoonlik die ‘stertjie’-deel in haar bord, want dit het mos nie grate nie. En as daar nog ‘n stukkie oor is, kry sy dit ook (kyk, my kind se eetlus het nog nooit iets makeer nie, behalwe as sy rerig siek is). So dit moes vir haar gelyk het asof ‘n vis meer as een stert moet he. Die liewe kleinding.

Wat my nogal aan die dink gesit het.

Hoe verstaan ons kinders vleis? Plaaskinders leer van kleins af – daardie dier wat in die veld loop en wei, kan more dalk slagpale toe ry – dit is waarvoor hy daar is – om mense te help voed.

Maar met stads- of dorps-kinders is dit nie sommer die geval nie. Hier rondom die ouderdom van 3 of 4  jaar kom hulle skielik tot die skokkende besef dat die stukkie vleis op hul bord eens pote (en stert) gehad het. Dit kan nogal traumaties wees vir so ‘n sensitiewe klein sieltjie. En lei tot baie vrae.

“Hoekom maak ons diere dood? Hoekom eet ons vleis? Hoekom?”

Waar begin mens?

Ek dink die beste is, begin by voeltjies. Wat eet ‘n voeltjie? Wurmpies! Dis hulle kos.

Wat eet ons? Eiers. Maar wat is ‘n eier anders as ‘n hoender? Dis ook maar vleis. EN dis goeie kossies.

Beeste eet gras, wat ons nie kan eet nie, maar ons kan vleis eet. Meer nog, ons het dit regtig, egtig nodig. Dit maak ons spiere sterk, dit laat ons groei (en wie wil nou nie groei nie, veral as jy 3 jaar oud is ) en… dit gee ons baie energie.

Arme diertjies? Nee, nie arme diertjies nie, solank daardie diertjies ‘n gelukkige lewe gelei het op ‘n pragtige boereplaas, en goed versorg is deur ‘n gawe boer, en op die regte manier geslag is (vinnig en pynloos), is daar niks om oor sleg te voel nie.

Wanneer moet ons sleg voel? Aha! Ek dink dáár is baie stof vir sinvolle gesprekke. Dink net ‘Factory Farming’ en ‘GMO’…

Ek dink ons moet ons kinders reeds van kleins af leer om verantwoordelik met hul kos om te gaan.

(En onthou: ‘n bees het net een stert. 😉 )

Ek ken jou pyn…

Ek weet van baie van ons se pyn. Ek weet, dat baie van ons wanhopig  voel — oor braaivleis. En dalk ook oor Nguni-vleis. En ek is seker ek kan help.

Nguni-vleis is nie regtig taai nie – solank dit jonk genoeg geslag is, lank genoeg gehang is en die regte manier geslag is. Feit bly, dit is nie bottersag nie. Dit kan wees nie. Want dit bevat juis ‘n goeie dosis gesonde kollageen(bindweefsel) — wat ons so nodig het vir ons litte en spiere. En dis wat maak dat die taaier vleisies gewoonlik ook die lekkerste proe. Maar die lewe kan so bitter ongemaklik raak, as mens nie kan kou soos jy graag wil nie.

Moenie moed verloor nie.  Gaan probeer die volgende:

  1. ‘n Goeie Loesing(en raak sommer van jou vleis-frustrasies ontslae): Sit jou stukkie braaivleis op ‘n hout-broodbord neer, neem jou vleismes/byltjie stewig in die hand en looi die vleise met die snykant van rand tot rand. Roteer en herhaal, tot hy slap en dun is. (Hou die braaityd kort en vinnig.)
  2. Vrugteslaai-braai: As die stukkie braaivleis been bevat, probeer hierdie manier. Laat jou vleisie ‘n paar uur staan in die sap of pulp van die volgende vrugte Pynappel,  Papaja of Kiwi-vrugte en laat daardie goeie ensieme toe om jou vleisie sag te maak. (Oppas vir te lank laat lê, dit kan jou vleisie effens ‘melerig’ maak).
  3. Swaer Boeta se Marinade(die stoute plan vir so nou en dan… 😉): Laat rus die vleisie oornag in ‘n mengsel van (gelyke dele) bruinsuiker, worcestersous en olyfolie. Haal uit die sous, laat bietjie drup , gooi op die rooster. En heel LAASTE, as hy gaar is, sout na smaak. Njam!
  4. Suur Sous(eenvoudig en gesond):  Laat lê die vleisie oornag in Karringmelk, Jogurt, Suurlemoensap (oppas vir te veel, dit kan ‘n effens bitter nasmaak gee) of sommer net Rooiwyn of Appelasyn. Meng en pas, en moenie die skoot olyfolie vergeet nie. Byvoorbeeld: 5ml Suurlemoensap, 10ml Olyf olie, 150ml Karringmelk 
  5. Sout en Peper (na swaar Boeta se marinade, die lekkerste manier): Sout jou vleisie goed in met 1 teelepel growwe seesout, aan beide kante. Dan die kruie of speserye waarvan jy hou, aan beide kante. Stop hom in die yskas vir ‘n ruk — hoe dikker, hoe langer (‘n uur per duimdikte, of selfs langer). Nou begin die pret. Spoel al die sout af en druk beide kante HEELTEMAL droog. Op die kole, in die pan of in die oond. Nie te lank nie, dan haal jy dit daar uit, geur met peper en ‘n stukkie botter of vet en roep die mense. (Jy sal heel moontlik vind dat jy nie nodig het om weer sout op te strooi nie).

Gaan probeer dit net. Belowe?

ONTHOU:

* Gebruik altyd ‘n glasbak om jou gemarineerde of gesoute vleisie in te laat lê (vermy yster, aluminium, plastiek en selfs vlekvrye staal-houers).

* Hou die vleisie altyd in die yskas vir die duur van die marinering/soutbehandeling.

Ontdooi jou vleisie heeltemal voor jy bogenoemde metodes toepas.

(foto geleen)

Listeriose Histeriose?

Ai, die pers is nou behoorlik op hol oor ‘n nare kiem met die naam van lyster…. listero… listeri… (watookal !!  )

En met reg.

Listeriose is nie sommer so ‘n siekte nie – dit veroorsaak tipiese griep-simptome soos koors, ‘n stywe nek, spierpyne en hoofpyn, maar kan ook ernstige diarree en naarheid tot gevolg hê en selfs sins-verwarring, duiseligheid en stuiptrekkings. Sommige slagoffers draai kort by die dood om. Iets om baie versigtig voor te wees.

Baie van ons vermy reeds lankal verwerkte vleisprodukte soos polonie, ‘russians’ en ‘viennas’, maar die vraag kan met reg gevra word — wat van ander vleis?

Die antwoord op hierdie kwelvraag is eenvoudig:

·         KWALITEIT-BEHEER.

Elke slagter of vleisverwerker wat sy sout werd is, maak seker dat sy fasiliteite SKOON is. En by Watertrap Nguni’s ons maak BAIE seker wie ons vleis verwerk, en hoe.

·         NASPEURBAARHEID

Sorg dat jy weet waar jou vleis vandaan kom. Dan kan jy rustig eet en geniet.

En as jy nog steeds bekommerd is, maak net jou vleis ordentlik GAAR.
So eenvoudig as dit. 😉
(Meer te lese hier.)

Bly kalm, eet (Nguni-) Vleis

Onthou daardie bekgeveg met ‘n vurige niggie (tante, vriend), wat vas glo: vleis-eet is uit die bose?

Hier is ‘n paar interessante argumente – hou vas aan jou stoel — opgehaal deur Marcelo Gleiser, beslis ‘n voorstaander van ‘n vleislose dieet:

“…cutting meat completely would not be as good a solution as it seems.

* As people eat less meat, they need to eat more plants, so farming areas need to be converted accordingly.

* In some areas where the land is not easily arable, such as mountainous regions with dry climate, grazing cattle, sheep, and goats is actually converting inedible grass into edible meat and milk.

* Pigs and chickens could be fed leftover foods.

* In some poor regions, meat and milk consumption is the only reliable source of protein and fat.

* Also, in poor regions, many people work with livestock.

* Culture also plays an essential role, and meat-eating is firmly ingrained in many parts of the world. Try convincing a Maasai from Kenya that he can’t eat meat or drink milk and blood.”

(Aangehaal hieruit)

So tussen ons… ek kan aan nog ‘n hele paar argumente dink…

Mag hulle lank en gelukkig leef…

Katryn, die Great Dane.

Ek is nogal lief vir my hond – al ons honde (en katte 😉). Hulle is verantwoordelik vir ‘n groot deel van die lekkerlag (en hartseer) in my lewe, en dis sekerlik nie anders gesteld met meeste van ons nie.

Ek onthou nou nog vir * Klara (wat elke keer die motorhuis se deur oopgemaak, en die alarm afgesit het, tot ons haar op heterdaad betrap het), * Wollie (die lui wolfhondkruising — ‘n hopelose waghond, maar dierbare kindervriend) en *Oubaas (wat weggeloop het omdat sy mense getrek het, en eers maande later weer verskyn het – toe pos hulle hom maar plaastoe).

En dan was daar ou * Brutus, die yslike swart Great Dane, wat ewe dapper in die grondpad aangestap gekom het – baie dors en baie honger, maar ‘n regte ou ‘gentleman’. (wie sou hom daar afgelaai het? Was hy ‘te oud’? Het hy ‘te veel’ geeet?).

Dis omdat ek vir Brutus leer ken het, dat ek vandag weer ‘n Great Dane op my werf het. Katryn het haar naam gekry toe my jongste se tongetjie wou knoop. Great Dane = kredein = Katryn. Die grootste hond op die werf, en die domste 😃 Sy is my ou hond(jie) wat nie wil ‘grootword’ nie – ‘n regte hondekind – vol lawwigheid en hope liefde.

Ek het baie opgelees oor haar ras en ja, dis my Katryn daai: “…they are not good choices for …those with no sense of humor… a heavy dog who wants to sit on your feet or lean his weight against your leg… rowdiness and exuberant jumping when young” (“Mamma, Katryn het alweer op my getrap!”). Nee wat, so erg gaan dit darem nie want sy is ook “…easygoing and mild-mannered”. 😉

Wat my egter geskok het, is dit:

“(Great Danes are) frequently stricken in middle age by crippling joint and bone disorders, heart disease and cancer.”

My hondjie, vroeg doodgaan, met baie pyn en swaarkry? Ek het myself voorgeneem dat ek my bes gaan doen om dit te voorkom.

Katryn, jy weet net nie, maar jy is op die beste plek waar ‘n Great Dane maar kon geland het. ‘n Beesplaas waar beeste net gras eet. En waar honde net vleis eet? Nee, nie heeltemal nie (hulle eet ook pap en groente), maar… hier is genoeg binnegoed, bene en vleis dat ons honde gereeld ‘n porsie kan kry. En hulle blink!

Mag Katryna (en al onse hondekinders) lank en gelukkig leef.

Naskrif: Omdat ons nie ‘n slagpale bedryf nie, kan ons ongelukkig nie  konstant dieselfde honde-lekkernye aan ons kliente verskaf nie, maar daar is wel gereeld long, niere, milt, pens en hondebene beskikbaar (alles wat Katryn nie opgevreet het nie, ha-ha).

Kontak ons gerus, vir ‘n honde bederfie  – en gaan lees hier meer oor ‘n rou dieet vir honde.

Grasbees-vleis HOEF nie taai te wees nie.

Dis ‘n feit soos ‘n koei: ‘Grass-fed’ vleis is die smaaklikste, geurigste vleis op die mark. Ek hoor dit gereeld by my kliente dat ons vleis soveel lekkerder is as vleis op die winkelrak (wat my hart baie bly maak).

Maar van tyd tot tyd moet ons hoor dat die vleis ongelukkig baie taai was – taaier as die vleis op die winkelrak (wat my nogal bekommer).

Waar lê die fout? Kon iets verkeerd gegaan het by die slagproses? Het die vleis nie lank genoeg gehang nie? Of lê die fout by ons persepsie?

Want ek moet ruiterlik erken: omdat ons al jare der jare opgehou het om vleis te koop, en net ons eie vleis eet, is ons nogal redelik in die duister oor die verskil tussen ons vleis en ander vleis. En as ons nie ons eie Nguni-vleis eet nie, eet ons graag wildsvleis. Wat baie dieselfde in tekstuur is.

Daarom dat ek onlangs ‘n klient gevra het HOE ons vleis vergelyk met ander grass-fed beesvleis. Hy kon ongelukkig nie antwoord nie, want dit was sy eerste ondervinding met grass-fed. Toe vra ek maar of hy al wildsvleis geeet het? Waarop hy ‘n ongelukkige vergelyking tref tussen ons vleis en Gemsbokvleis (toevallig die enigste wildsvleis wat hy ken).

Gemsbok is juis een van DIE sagste vleise in die mark  (soos ek toe later by slagter en jagter moes hoor). Mens is nooit te oud om te leer nie. 😉

So het ek ook by oupa Google gaan kers opsteek.

“Grassfed” taai? In vergelyking met ‘gewone’ voerkraal-vleis, beslis. Die rede? Daardie spiere aan ‘n bees (of enige vleisdier) wat die meeste werk, is geneig om die taaiste, maar ook die geurigste te wees. En dis wat grasbeeste doen. Hulle werk – heeldag lank — met al hul spiere.

Ons Nguni’s loop, hardloop (spring!) tussen weiding, lekbak en watertrog. Hoe sê die spreekwoord? “Never a dull moment” vir ‘n gewone, grasbees nie.

Dit beteken NIE dat ons moet sukkel met taai vleis (en stomp tande) nie. Inteendeel. 

Die geheim lê by die gaarmaak.

Die beste plan is: stadig, by lae hitte (lees gerus wat Shannon Hayes hieroor te se het). In ons gejaagde samelewing dikwels nie moontlik nie, maar aan die ander kant – is dit dalk hoog tyd dat ons weer tyd MAAK vir beter eet- en lewensstyle.

Nog ‘n goeie plan: die rojale gebruik van seesout (ja, regtig!)

Kelly van Primally Inspired aan die woord: “…use a liberal amount of salt to create a “dry brine” and then let the steak rest. Salt is the agent that relaxes the tighten woven protein cells and helps break down the protein and fat. The results are a juicy, absolutely flavorful and tender grass-fed steak.

And don’t worry – you won’t be eating all that salt and it won’t taste like a salt-lick, I promise. Most of the salt will get washed away. Only a minimal amount of salt gets trapped inside. And this salt and any other spices and herbs you add get infused throughout the entire steak through osmosis. That makes every bite of your grass-fed steak oh-so-flavorful and tender. It’s absolute perfection!”

Maak SO vir die heerlikste braaivleis:

Kies jou vleisies (enige stukkies braaivleis sal werk).

Sout dit goed in met 1 teelepel growwe seesout, beide kante.

Voeg jou keuse van kruie of speserye by, beide kante.

Laat die vleisies rus, hoe dikker, hoe langer (1 uur per duimdikte).

Spoel al die sout af.

Druk beide kante HEELTEMAL droog (Baie belangrik!)

Braai, kook of soteer die vleisies op jou gunsteling manier.

Geur met peper en ‘n stukkie botter, ghee, vet bo-op elke vleisie.

Laat dit staan vir 5 minute.

(Nou is dit ‘n goeie tyd om almal by die etenstafel te kry, bord in die hand, reg om te skep.)

GENIET!

 

(foto geleen)