Grasbees-vleis HOEF nie taai te wees nie.

Dis ‘n feit soos ‘n koei: ‘Grass-fed’ vleis is die smaaklikste, geurigste vleis op die mark. Ek hoor dit gereeld by my kliente dat ons vleis soveel lekkerder is as vleis op die winkelrak (wat my hart baie bly maak).

Maar van tyd tot tyd moet ons hoor dat die vleis ongelukkig baie taai was – taaier as die vleis op die winkelrak (wat my nogal bekommer).

Waar lê die fout? Kon iets verkeerd gegaan het by die slagproses? Het die vleis nie lank genoeg gehang nie? Of lê die fout by ons persepsie?

Want ek moet ruiterlik erken: omdat ons al jare der jare opgehou het om vleis te koop, en net ons eie vleis eet, is ons nogal redelik in die duister oor die verskil tussen ons vleis en ander vleis. En as ons nie ons eie Nguni-vleis eet nie, eet ons graag wildsvleis. Wat baie dieselfde in tekstuur is.

Daarom dat ek onlangs ‘n klient gevra het HOE ons vleis vergelyk met ander grass-fed beesvleis. Hy kon ongelukkig nie antwoord nie, want dit was sy eerste ondervinding met grass-fed. Toe vra ek maar of hy al wildsvleis geeet het? Waarop hy ‘n ongelukkige vergelyking tref tussen ons vleis en Gemsbokvleis (toevallig die enigste wildsvleis wat hy ken).

Gemsbok is juis een van DIE sagste vleise in die mark  (soos ek toe later by slagter en jagter moes hoor). Mens is nooit te oud om te leer nie. 😉

So het ek ook by oupa Google gaan kers opsteek.

“Grassfed” taai? In vergelyking met ‘gewone’ voerkraal-vleis, beslis. Die rede? Daardie spiere aan ‘n bees (of enige vleisdier) wat die meeste werk, is geneig om die taaiste, maar ook die geurigste te wees. En dis wat grasbeeste doen. Hulle werk – heeldag lank — met al hul spiere.

Ons Nguni’s loop, hardloop (spring!) tussen weiding, lekbak en watertrog. Hoe sê die spreekwoord? “Never a dull moment” vir ‘n gewone, grasbees nie.

Dit beteken NIE dat ons moet sukkel met taai vleis (en stomp tande) nie. Inteendeel. 

Die geheim lê by die gaarmaak.

Die beste plan is: stadig, by lae hitte (lees gerus wat Shannon Hayes hieroor te se het). In ons gejaagde samelewing dikwels nie moontlik nie, maar aan die ander kant – is dit dalk hoog tyd dat ons weer tyd MAAK vir beter eet- en lewensstyle.

Nog ‘n goeie plan: die rojale gebruik van seesout (ja, regtig!)

Kelly van Primally Inspired aan die woord: “…use a liberal amount of salt to create a “dry brine” and then let the steak rest. Salt is the agent that relaxes the tighten woven protein cells and helps break down the protein and fat. The results are a juicy, absolutely flavorful and tender grass-fed steak.

And don’t worry – you won’t be eating all that salt and it won’t taste like a salt-lick, I promise. Most of the salt will get washed away. Only a minimal amount of salt gets trapped inside. And this salt and any other spices and herbs you add get infused throughout the entire steak through osmosis. That makes every bite of your grass-fed steak oh-so-flavorful and tender. It’s absolute perfection!”

Maak SO vir die heerlikste braaivleis:

Kies jou vleisies (enige stukkies braaivleis sal werk).

Sout dit goed in met 1 teelepel growwe seesout, beide kante.

Voeg jou keuse van kruie of speserye by, beide kante.

Laat die vleisies rus, hoe dikker, hoe langer (1 uur per duimdikte).

Spoel al die sout af.

Druk beide kante HEELTEMAL droog (Baie belangrik!)

Braai, kook of soteer die vleisies op jou gunsteling manier.

Geur met peper en ‘n stukkie botter, ghee, vet bo-op elke vleisie.

Laat dit staan vir 5 minute.

(Nou is dit ‘n goeie tyd om almal by die etenstafel te kry, bord in die hand, reg om te skep.)

GENIET!

 

(foto geleen)

Die Geheim van Watertrap Wors.

Vir die ou wat lief is vir sy stukkie wors, is daar so baie om van te kies. Daar is heerlike wors op die winkelrak, gepatenteerde worsresepte wat al pryse gewen het, die slagter se Boerewors, Beeswors, Rumpwors… 
 
Maar beste van alles bly maar daardie worsie wat jy self uitge…wors…tel het. *:) happy
Al ooit probeer om jou eie wors te maak? Kyk, dis ‘n belewenis. 
 
Nou praat ons nie van die gesukkel met wors wat te kort is, te dun is, te knopperig is of (knyp… KNYP!) uitpeul nie — nee, ons  praat oor die groot besluit van wat moet IN en wat moet UIT. 
Kyk net bietjie wat sit mense alles in wors: kaas, uie en tamatiesous, selfs pap! Wie weet, volgende kom die bier ook dalk by… (Hmm… nee wat.)
 
Op ‘n nugter noot: ons was van die begin af seker ons wil ons wors geniet sonder dat die nagevolge van elke (onvermydelike, onwelkome, sintetiese) MSG- en Hormone-verrykte worshappie later by ons kom spook. 
 
Sommer vroeg op ons wors-reis moes ons egter besef daar is nie ‘n wors-speserymengsel op die rak, wat nie MSG bevat nie. Dan maar wors-resepte opsoek, boeke vol. Wat maak wors lekker? Koljander, naeltjies, peper, sout, asyn…? Kerrie…? 
 
Ons het ‘n hele paar dingetjies uitprobeer — op ‘n keer vir die mensies wat nie speserye kan verdra nie, ‘n worsie gegeur met net kruie, sout en asyn. Ook wors gemaak sonder vark, met beesvet of skaapvet, maar sjoe, dis duur.
Uiteindelik het ons ‘n varkboerdery opgespoor waar die varke (soos wafferse veldkonings) op grasveld alleen wei – weg wrede sementvloer-hokkies! En kyk net die vleis  – dis GOEIE kwaliteit en skoon! Nog minder om oor te bekommer. *;) winking 
(Kontak ons om ‘n lieflike skoon vark-karkas by ons te bestel — verwek en verpak).
 
Einde van die wors-reis? Nee wat, dit raak mos nou juis interessant. 
Maar ons kan reeds met volle vertroue sê: ons hou baie van ons Watertrap wors. As ons die pakkies so vars van die slagter af, in die vrieskas pak, is die geur alleen genoeg om oor digterlik te raak, op die boere-manier. 
 
Die geheim van Watertrap Wors? Dit ruik SO lekker, want dit proe SO lekker. Niemand gaan verslaaf raak aan Watertrap wors nie, maar lus daarvoor? BAIE! *;) winking
———————————————————————————————–
Let wel
 
Watertrap Wors word hoofsaaklik as deel van maandpakke, of halwe karkasse verkoop — dus is daar nie altyd los pakkies beskikbaar nie, maar darem meeste van die tyd *:) happy.  Om seker te maak jy kry jou stukkie wors, gaan loer gereeld in by ons
of 
kontak ons direk. 

Wie kom saam?

Dit maak my so bly dat daar al meer kompetisie op die skoonvleis-mark is die laaste tyd. Dit dui op ‘n groeiende behoefte om SKOON te eet. Al meer mense kyk nou rond en vra: Watter vleis? Waar? Waarom?

Wel, waarom Watertrap?

Want:

…ons Nguni’s is omgewings-vriendelik.

So… GRAS-vretende koeie los meer gasbommetjies as GRAAN-vretende koeie? Oeps! 😃

Hoe laf kan mens raak? Alle gras moet vrot (fermenteer), of dit nou in die koei se maag is, of op die grond. Dit moet en dis goed. Wat uitgehaal word, word teruggesit, en selfs meer. Dink aan die miljoene der miljoene lewende organismes in en bo-op die grond — ons ingesluit. 😉

…Ons Nguni’s is ver genoeg EN naby genoeg.

Ons lug, water, gras — alles is twee uur skoner as in die stad, maar terselfdertyd is ons nie onbereikbaar ver nie. Waarom vleis van onopspoorbare (of voerkraal-) oorsprong eet, terwyl die allerlekkerste SKOON vleis tuisgemaak beskikbaar is?

Voeg daarby: ons is vriendelik en tegemoetkomend — gee ons kans om julle te wys.

…Ons Nguni’s is plat op die aarde.

Hulle is nie geregistreer nie. Nie as stoet nie — al verdien hulle dit oor en oor. Nie as Grass-Fed nie — al wei hulle op gras, nie graan nie. Nie as organies nie – al bly ons ver weg van antibiotika en wurmgif, want bosveld-bosluise is taai. Ons dip wel die helfte minder, danksy Knoffel en Aalwynpoeier, Diatomiese aarde, Mineraallek en Vitamines… 😊

…Ons Nguni’s is outyds.

Terug na die ou maniere! Waar nie met hul kosbare vleis gemors word nie en hul self hul gras ‘bemis’. Waar hul nog die kans gegun word om DIER-waardig op te groei, SONDER hormoon-pilletjies en strooitjies. Waar ‘n koei nog ‘n koei kan wees, en ‘n bul… ‘n BUL van ‘n bul.

…Ons Nguni’s skuil nie agter ‘ORGANIC’ of FREE ‘RANGE’ of GRASS_FED’ nie.

Die feit dat ons nie geregistreer is nie, beskerm ons dalk juis teen al die oneerlikheid gepleeg in naam van Grass-fed, Free Range en Organic. Ons het nie nodig om iets weg te steek ter wille van naam of profyt nie. EN ook – ons vleis word realisties geprys. Ons moet lewe — ons kliente ook.

So… wie stap saam? Met ons Watertrap-skoene aan — Hoeeii, HUP!

Plastiek of nie Plastiek nie?

Ons almal het teen die tyd die boodskappie intvang (per epos of Whatsapp) oor warm water in plastiek-waterbottels. Hoeveel daarvan is waarheid en hoeveel is skrikmaak?

Volgens die slimkoppe is dit inderdaad hoog tyd om te onderskei tussen die plastiekprodukte wat ons lewe soveel makliker maak, maar ook kankerwekkende hormoon-ontwrigters kan vrystel. Ons dink bv aan BPA (Bisfenol A), DEHA en DEHP.

Wat ons bring by die GROOT vraag:

Wat van die gewone, polistireen-bakkies, ‘gladwrap’ of voedselgraad plastieksakkies waarin ook ons SKOON Nguni-vleis verpak word… Is dit veilig?

Hier is ‘n paar FEITE:

  • Baie soorte kleefplastiek word van PVC vervaardig.
  • PVC word met DEHA behandel — ‘n nare kankerwekker.
  • DEHA “verdamp” maklik uit die PVC en migreer na vette (hmm – dink biltong, wors, maalvleis). Hoe warmer, hoe meer migrasie vind plaas.
  • Pakkies vleis lê dikwels vir dae aaneen in die koelrak, voor jy dit koop.
  • Wanneer jy jou pakkie gevries het, gebruik jy dikwels hitte om dit te ontdooi.

Maar die GOEIE NUUS is:

  • Polistereen is veilig, volgens Health Canada se riglyne (en hulle is baaie strenger as die FDA).

En die kleefplastiek?

  • Volgens ‘n artikel in die tydskrif Rooi Rose is supermark-handelsmerke, soos Spar Cling Wrap en Glad Wrap(deur ons gebruik), wel veilig en PVC-loos.
  • Watertrap-Nguni-vleis verpakking voldoen dus aan die strenger gesondheids-vereistes.

Dankie tog! 😉

‘n Laaste woordjie, omdat ons ekstra versigtig wil wees:

  • Bly weg van hitte (mikrogolf-oond, warm water, son), as jy vleis (of kos) moet ontdooi.
  • Ontdooi dit verkieslik binne die yskas (veral noudat dit weer warmer word).
  • Haal die pakkie die vorige dag uit.
  • As jy baie veilig wil wees, verwyder die verpakking heeltemal en laat die vleis in ‘n vlekvrye staal- of gas-skottel ontdooi.

Geniet!

Alweer ANDERS…

En ja… ons is alweer anders.

Ons boer met beeste – baie mense boer met beeste — maar so wragtie, ons is alweer anders – want ons boer nie met die mooigoed, rooigoed, die ronde, vet beeste nie. Ons boer met slanke, gespikkelde, gekolde Afrika-beeste. As hulle die veilingring instap kyk almal skielik skeef, en hoor mens snedige opmerkings, die katterige gekikker – want ons beeste is anders.

Hulle het horings, hulle het patrone, hulle het mooi, fikse lyfies, en kyk net hoe mooi tel hulle kop op en kyk die spotters reg in die oog. Hulle is net eenvoudig — anders.

Ek het dit weer nou die dag besef toe ek (vir die soveelste keer) moes hoor: “Ag man, ‘n Nguni is nie ‘n bees nie. Kyk net hierdie T-bene. Kyk net die Rump… daar is eenvoudig te min van hom!”

Waarom die grootte van die bees saak maak, as mens per slot van sake per kg betaal, kan ek nou nog nie klein kry nie. Maar ek antwoord:

“ ‘n Nguni is iets op sy eie — Bos indicus, dis wat hy is. Die meeste ander beeste is vanaf Europa hierheen gebring — Bos taurus, dis wat hulle is.“

En toe ek sien ek het sy aandag, vertel ek hom MOOI:

As die gewone beeste omkap van ellende (die son skroei hul dood, die gras kry hulle nie vet nie, die bosluise vreet hulle lewendig op, die siektes maai hulle af) dan staan daardie Nguni-tjie nog stewig op sy eie vier bene. Meer nog —

Nguni’s se vleis is lekker sag, hulle word nie sommer siek nie, die bosluise kry hulle nie maklik onder nie, die koeitjies maak hul kalfies mooi groot – jaar na jaar – soms twee keer in een jaar – ‘n Nguni hóórt in Afrika.

Kyk net, (gaan ek aan, nou mooi op dreef) hoe sukkel die arme boere. Hulle beeste moet soos babatjies dopgehou word. O, hulle het vet, ja — hulle is groot en fris –- en dis net Texas-steak op Texas-steak.

Maar om daardie homp vleis op jou bord te kry, kos die boer baaaaie medisyne, hormoonpille, dip en voer. Daardie vleisie se naam is Gif, GMO en Geld.

Neem nou hierdie stukkie Nguni-vleis, wat kwansuis te klein en te min is. Hierdie stukkie vleis kan ek met ‘n skoon gewete op jou bord sit.

Die jong ossie wat ons geslag het, het op skoon gras en water gegroei, en reggekry om ‘n stukkie gesonde vet te versamel SONDER Gif, GMO en Geld. Hierdie vleisie se naam is: Uit die Gras, op die Grond en Gesond

Gaan eet nou hierdie skattige T-beentjie en sappige Kruisskyfie.

En wees bly dat ons en ons Nguni’s ANDERS is.

Anders…  anders was die wêreld mos maar ‘n baie droewige plek.

(En dit was die einde van die argument. 😉 )

KAN kos ‘gesond’ wees?

.

Eendag gaan ek ook ‘n boek skryf oor… gesond eet. Maar net eers ‘n bietjie by David Sax (The Tastemakers) gaan kers opsteek oor die hoe en die wat:

 

“Drink three glasses of milk a day, so long as you avoid lactose and dairy. Beef is filled with much-needed iron and protein, but you should steer clear of red meat entirely. Eat fish, unless it (almost certainly) contains mercury. Margarine is the evolutionary replacement for butter, although it turns out margarine should be avoided like the plague, so how about some more butter?

 

Eat whatever you want. But don’t finish it. And make sure it contains no gluten, because gluten is certain death. Be sure to read the labels on your food, but do not for one second trust the information printed there.”

 

Ai tog, David… 😃

 

Mens moet maar lag, want dis waar — vir elke studie wat sê: “Eet hierdie superkos vir ‘n lang gelukkige lewe”, is daar ‘n ‘teenstudie’ wat sê: “Gooi weg, dit maak dood!”. (Dink bv. aan die tans so berugte klapperolie…)

 

Wat is kos? Volgens Wikipedia is kos daardie ding wat mens (dier, plant) nodig het vir:

* Energie (die brandstof wat verbrand word vir energie sodat selle hul funksies kan verrig)

* Groei (boustowwe vir die vervaardiging van nuwe selle)

* Beskerming teen siektes (boustowwe vir sterk selwande met goeie weerstand).

* Herstel (boustowwe vir die vervanging van beskadigde weefsel).

 

En ‘gesonde’ kos?

Wel, as mens mooi dink, besef jy: kos kan nie gesond of ongesond wees nie – dis jy wat gesond of ongesond is. Maar kos kan siek maak, of… gesond.

 

Nou, hoe om te weet wat maak (of hou) jou gesond?

Eenvoudig: Luister na jou liggaam. Los die goed wat jou siek maak. Eet die goed wat jou gesond maak.

 

So, wat dink julle van my splinternuwe Watertrap Promosie Slagspreuk:

Dis Nguni. Dis sappig. Dis geson… ag, dinges… ek bedoel… VOEDSAAM!

😊

Vinnig, lekker EN Goedkoop.

Wie van ons het nog tyd vir regtig lekker eet? Ag, selfs eenvoudige etes raak haas onmoontlik. Ons kom dan eers na donker tuis – en dan nog kos opsit?

Maar moenie moed opgee nie — die geheim is: vinnig, lekker EN goedkoop. 😉

  1. Tyd-besparend met so min as moontlik tyd voor die stoof deurgebring.
  2. Geurig maar ook sappig en sag genoeg.
  3. Meer vir minder — snitte soos borsstuk, kookvleis of skenkel.

KAN goedkoop snitte vinnig EN lekker gaargemaak word? Maar natuurlik! Kom ek vertel jou bietjie:

* Dis waar, tydsduur, manier van kook en snit is belangrike bepalende faktore. Maar as jy jou stoompot (of ‘slow cooker’) inspan, kan jy verseker wees jou vleisie sal beide sag en sappig wees, maak nie saak watter snit jy gebruik nie.

* Jy besit nie een nie? Mens, hoe kom jy deur die lewe? 😉 Glo my, dit is ‘n belegging wat jy nie sal berou nie. Sodra die pot op stoom (of prut) is, gaan hy op sy eie aan. ‘n Stoompot kan op lae hitte voort stoom en vir die laaste halfuur kan jy selfs die stoof heeltemal afskakel.

*  Marineer daardie kookvleisie — dis NIE net braaivleis wat gemarineer kan word NIE. Pak jou vleisies in marinade in die yskas, ‘n dag voor jy dit wil gaarmaak, en kyk bietjie wat gebeur.

* Van marinade gepraat — Appelasyn maak enige potjie stowe-vleis vinniger sag, en dra baie by tot die smaak. En wat van ‘n paar lepels heuning op die koop toe? Probeer dit bietjie…

* In daardie taaier, goedkoper stukkie vleisie is ‘n bykomende stel voordele  opgesluit – want senings is ryk aan kollageen, en bene bevat minerale en gelatien – dinge waarsonder mens eintlik nie kan klaarkom nie.

* Saterdag se Braai? Wie het gesê ons mag net kook? Probeer bietjie Dikrib (Chuck) vir goedkoper braai — enige tyd net so lekker as T-been of Kruisskyf (Rump). (EN marineer, meneer!)

Vinnig, lekker, goedkoop en RYKER!

Nog ‘n stukkie? 😉

Daardie stukkie rooivleis op jou bord…

Het jy geweet: daardie stukkie rooivleis op jou bord kan dalk jou dood beteken? Nie nou dadelik nie maar regtig jong, jy moet oppas.

Hoor net hier — wetenskaplike studies het bewys dat rooi vleis:

* dalk aanleiding kan gee tot kanker.

* kan lei tot meer gediagnoseerde gevalle van diabetes.

* kan bydra tot die voorkoms van kardiovaskulêre afwykings.

Nee wag, wag… voor jy jou braaier weggee en jou tweede vrieskas afsit…   😉

Kom ons neem elke wetenskaplike studie met ‘n goeie knypie braaisout. Daar kan so maklik met woorde en syfers gespeel word – doelbewus of per ongeluk.

In die studies wat gedoen is:

         Is nie onderskei tussen geprosseerde, graangevoerde, hormoon-verrykte, antibiotika-gedokterde vleis aan die een kant, en onbehandelde, GMO-vrye, gras-gevoerde, hormoonlose vleis aan die ander kant nie.

         Is nie onderskei tussen onfikse rokende, alkohol-misbruikende rooi-vleis gebruikers, en gesondheidsbewuste rooivleis-verbruikers nie.

         Is nie onderskei tussen die wat gereeld hulle rooivleis kombineer met ‘slap tjips’ en die wat graag ‘vars groente’ daarmee saam eet nie.

En daar lê die hele knoop…

Is rooivleis ‘n ‘killer’ soos nuus-opskrifte net laasjaar weer berig het?

Navorsing dit, navorsing dat.. Om agter die kap van die byl te kom, lees hier. Maar… alles in ag genome, is die slotsom maar weer: “There are no convincing studies that red meat is harmful.”

(Kon ek hulle laaankal gesê het as hulle moeite gedoen het om MY te vra 😉  )

Nee wat, ons hoef nie skuldig te voel oor die rooivleisie op die bord nie. Die probleem lê nie by rooivleis nie, maar by watter rooivleis en hoe jy die res van jou lewe inrig.

Overgesetsynde:

* wat het die bees ingeneemGMO-graanvoer, ou brood, ‘n hormoonpilletjie, hoendermis of erger?

* wat het die slagter bygevoegMSG-speserymengsels en vleisversagters? Vullers?

* wat eet jy daarmee saam – ‘groenkragkos’ of ‘goeters’?

* hoe werk jy met jouself – rook-, drink-, slaap-gewoontes…?

Al hierdie faktore kan nogal ‘n rasende verskil maak as dit kom by jou gesondheid – maar onthou…

…as jy weet  waar jou vleis vandaan kom, kan jy eet met lus.

 

Gee jy Knoffel vir jou hond?

 

Ek kan nie eers onthou wanneer en waar ons begin het om knoffel vir ons Nguni’s te gee nie. Knoffel is ‘n natuurlike antibiotika, met ‘n magdom voordele vir mense – goegeloer maar ‘n bietjie.

En vir beeste? Baie min word gesê oor knoffel vir beeste – mens lees wel hoedat organiese beesboere dit met sukses gebruik om hul diere gesond te hou. Net soos ons.

Maar oral word gewaarsku teen knoffel vir honde en katte – dis gif vir hulle. Die rede? ‘n Sekere wetenkaplike studie het dit bewys.

Ek gaan kort wees. Hoor bietjie hier:

Vier honde, 1,25ml knoffel per kg liggaamsgewig, elke dag vir sewe dae lank. (Dis nogal kwaai oordoen.) Die resultaat: hondsiek? Nee. Springlewendig.

Maar deur bloedmonsters onder ‘n mikroskoop te bekyk kon hulle uiteindelik iets teen knoffel ontdek: die rooi bloedselle het tekens van beskadiging begin toon.

(Ek kan dink — teen daardie hoë dosis sal enige opregte bloedsel begin protesteer.)

En hoewel die honde (en daar was maar net 4) self geen simptome van bloedarmoede getoon het nie (selfs na al daardie knoffel), word hierdie studie steeds aangehaal as bewys dat knoffel lewensgevaarlik is vir troeteldiere.

Ek wil voorstel dat hulle weer gaan kyk na knoffel. En diere.

Lees verder hier (dis baie interessant).

 

Watertrap Weggee: Skoon Bene vir Beensop (Bonebroth)

Sommige van ons het al die lekker van bene afkook, ontdek. Maar as jy dit nog nie probeer het nie, moenie langer wag nie. Dis ‘n wonderlike manier om goeie, bekostigbare PROTEINE te bekom, en daarby sommer ook GELATIEN en minerale soos KALSIUM en MAGNESIUM  (iets wat mens veral bo 40 baie nodig begin kry) — in beensop kry mens alles, teen ‘n fraksie van die prys.

Of dit afval-bene is?

Nee, dis glad nie afval nie. Net oorskiet-bene, skoongesny, soos julle kan sien hierbo.

Wanneer ‘n bees-karkas verwerk word, bly daar noodwendig bene oor, waarvan die vleis afgesny is om maalvleis, wors, repies en blokkies te maak. Hierdie bene word mooi netjies opgesny in kleiner stukke (soos vir potjiekos of sop), en netjies verpak.

Dit is miskien nie ‘murgbene’ nie, maar net sulke goeie ‘sopbene’. Want dis nog vol stukkies vleis, sening en kraakbeen, en ~ wat die oog nie kan sien nie~ hope MINERALE soos kalsium en magnesium.

Ons gooi hierdie bene in ‘n pot met ‘n appel-asyn daaroor, en genoeg water, en laat dit prut vir minstens 5 ure (selfs tot 10 ure). Die sout kom eers teen die einde by. Die appel-asyn laat die minerale loskom, en met die sagkook word die kosbare gelatien vrygestel.

Uiteindelik haal ons die bene uit, en voeg groente en speserye/kruie by die sopperige fynvleisies om die heerlikste sop te maak.

Tussen hakies… ek het ‘n gratis e-boekie raakgeloop by WellnesMama met heerlike Beensop resepte —  Gaan kyk gerus daarna.