Gepubliseer op Maak 'n opmerking

KRAGDAG 2022 “Doen Jou Eie Ding!”- Kom besoek ons by stalletjie nr 42!

https://www.kragdag.co.za

Waar ons ook gaan wees, 11-13 Aug. 2022.
Kom loer in!

Stalletjie nr.42-43 – (by die pylpunt op die terreinkaartjie.)

🌿🐄🌿🐖🌿

KRAGDAG EKSPO 2022.

Die KragDag Ekspo wat jaarliks plaasvind, is die hoogtepunt op die KragDag-kalender en bied ’n uitstalkas vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings. Dit sluit ’n Opvoedkunde sub-ekspo, Entrepreneurskap en vanaf 2019 ook ’n volwaardige Landbou ekspo (in samewerking met TLU SA) in.

“Doen Jou Eie Ding!”
Met hierdie leuse fokus KragDag op ‘n vryword-lewe deur volhoubare en selfstandigheidsoplossings (en selfs Doen-dit-self planne), wat jou terselfdertyd minder uitgelewer aan en afhanklik van ’n staatsbepaalde lewe maak. Hierin speel dinge soos hernubare en alternatiewe energie ʼn sentrale rol, maar daar word ook voorsiening gemaak vir ander aspekte wat ʼn lewe van selfbehoud en self beskik moontlik maak. By KragDag vind jy oplossings vir die uitdagings van energie, water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, vervoer en konstruksie en word ’n maker- en kreatiewe entrepreneuriese lewensingesteldheid aangemoedig. KragDag doen dit deur die jaarlikse buitelug ekspo, radiorubrieke, kursusse, bekendstelling van produkte en toepaslike ondernemings en beskikbaarstelling van inligting met opvoedkundige, tegniese en interessantheidswaarde in ons nuusbriewe en seminare. KragDag verskaf ook ʼn platform waardeur ondernemers, die publiek en innoverende idees by mekaar uitgebring word.

Die KragDag ekspo
Die jaarlikse KragDag ekspo bied ‘n inspirerend leersame dag in ‘n karnaval atmosfeer. Alhoewel daar ‘n groot hoeveelheid genot en vermaak by die ekspo te beleef is, is hierdie geleentheid uniek daarin dat jy hier nie ‘n vermaaklikheidtoeskouer is nie, maar ‘n deelnemer in interaksie met dinge wat ‘n verskil in jou lewe kan maak. Die effek van die vrywees filosofie wat integraal deel is van KragDag en die uitstallings wat hiermee handel, kan ‘n groot impak op jou lewe maak.

‘n Terugblik op Sakeliga KragDag 2019
YouTube video besig om te laai…
Die KragDag ekspo sluit uitstallings in oor dinge soos die volgende:
Sonkragoplossings, wateropvangs en -suiwering, 3D drukkers, gewere, messe, verskeie nasionale en plaaslike organisasies, insektebeheer, voedselproduksie (ingesluit akwaponika en hidroponiese stelsels), elektriese motorkarre, internet-oplossings, kooktoerusting, geotermiese energie, boorgate, pompe, opvoedkundige speelgoed en hulpmiddels, kuns, isolasiemateriaal, verfoplossings, plaastoerusting, veiligheidsalarms, -kamera’s en oplossings, batterye, buitelug- en kamptoerusting, rioolverwerking, braaiers, kragtoerusting, boeke, 4×4 sleepwaens, gastoerusting, LED ligte, weefsel ingenieurswese, masjienbouers, oprigters van maste en staalstrukture, klamptoerusting, taktiese uitrusting, kreatiewe staalwerk, byeboerdery, droë ys oplossings, elektriese motorfietse, elektriese gereedskap, elektriese ware, aard-sel tegnologie, houtkloof toerusting, houtkerwers, leerprodukte, songeisers, energiebesparende produkte, windkrag, skoonmaak en herwinning, hidroponiese groenvoer, vuurveg- en brandtoerusting, bergingshouers, sleepwaens, vervaardiging, nutsgoed, slim elektriese- en watermeters, nutsvoertuie, boog- en jagtoerusting, kragopwekkers, waterontsouting, robotika, kortkursusse, konstruksie, tonnels en kweekhuise, beveiliging teen diefstal van sonkragtoerusting, isolasie, huishoudelike doen-dit-self produkte, plasmasnyers, sweismasjiene, brood-oonde en mini-rookers, erfenis saad, kombuistoerusting, gesondheidsprodukte, fokusvrye vêrkykers, reservoirs en tenks, kettingsae en bossiekappers, outonome grassnyers, nagsig, hommeltuie, veebeveiliging, swembadtoerusting, krokodilboerdery, soldeeroplossings, grasnyertrekkers, pesbeheer, plaatmetaal toerusting, sonkrag motors, meubels van bande en herwinde materiaal en verhittingspype.

Gratis seminare en lesings
Tydens die ekspo is daar in die KragDag Raadsaal ook talle gratis lesings en paneelbesprekings deur bekendes en hoë profiel kenners (20 sprekers oor die drie dae). In die Landbou sub-ekspo terrein vind ‘n verskeindenheid aktiwiteite oor ‘n wye verskeidenheid boerdery-aangeleenthede.

Arena program
Aktiwiteite in die arena sluit vertonings met perde en berede oorlogvoering, vee-ras tentoonstellings, en hommeltuigdemonstrasies in.

Wat jy nog by die KragDag Ekspo te wagte kan wees
330 selfstandigheidstema uitstallers.
165 uitstallers in die Landbou sub-ekspo.
30 uitstallers in die Opvoedkunde sub-ekspo.
20 makerbeweging uitstallings.
50 Junior Entrepreneurs.
’n Snuffelmark.
’n Massiewe verskeidenheid verversings.
’n Pretpark en vermaak wat enige iets insluit van ossewa- tot helikopterritte.
Vir meer besonderhede klik op die skakel heel bo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui