Toe Oupa ge(s)lag het…

Ek wou julle nog vertel het van die dag toe ons as kinders vir die eerste keer vir oupa help bees slag het. Ons het so gelag dat ons skaars die pens kon vashou. Watter pens? Die bees se pens natuurlik!

Oupa was ‘n goeie skut, en het die koeitjie onder ‘n gerieflike boom in haar spore laat neersak. Maar teen die tyd dat ons alles mooi onderstebo opgehys het en die vel afgeslag het, raak dit net mooi donker… en donkerwerk, soos julle weet, is konkelwerk.

Ons het lank gespook in die kar se ligte — daardie tyd het niemand nog die kopflits uitgevind nie. Dit was net mooi sny en fyn kyk vir die galblaas, want o wee, as daar iets is wat jy nie moet raaksny nie, is dit nou daardie vuilgroen orgaantjie…!

Ek sal nooit vergeet nie hoe oupa naderhand bo-op die staanleer gebalanseer het, met sy arms vollengte agter die bultende binnegoed weggesink, terwyl ons ander al giggelend die binnegoed van onder af probeer stabiliseer… of so iets. Hoekom al die nonsens? Want die lawwe besigheid het agter die borsbeen vasgesit en… nou ja, kom ons erken dit maar: Oupa het bietjie vergeet hoe…

Lang storie kort, die vleis het niks oorgekom nie, geen vingers het in die slag gebly nie, en die galblaas is ongeskonde verwyder.

En daardie vleisies… het vorentoe gesmaak.

My Oupa is my held.

 

(Haai…!! ons mis julle vriendelike belangstelling

Kom loer gerus in by ons FB- groepie  https://www.facebook.com/groups/330819803958478/ )