Gepubliseer op

Die krag is af — die vrieskas vol. Wat nou?

Die krag gaan af — en bly af. Hoe nou gemaak met my vrieskas vol vleis?

Braai en eet alles op. ALLES. Nou. (Jy sal dalk vir die volgende paar weke nie vleis kan aankyk nie, maar dan is dit nou maar so.)

Hokaai! Dis nie nodig nie. Eet lekker, vir langer. Hier is ‘n paar goeie planne:

1. Gebottel

Maak die vleis in, in bottels. Ja, dis moontlik! Lees bietjie hier. Sorg net dat jy die regte gereedskap gebruik (ongelukkig kan dit bietjie lastig raak om ‘n ‘pressure-canner’ in SA in die hande te kry).

2. Gesout

So oud soos die berge – en glad nie moeilik nie. Vir beginners (soos ek), hier is ‘n oulike videobrokkie.

3. Gedroog

Dehidreer die vleis: sny dun repies, marineer en droog stadig teen ‘n lae hitte in die oond. Die yankees noem dit Jerky. (Jy kan glo ook ‘n elektriese- of son-droeër gebruik. )

4. Gevriesdroog

Een van die beste maniere om vleis te preserveer. Vangplek: jy moet ‘n vries-droër aanskaf – en dit kos amper ‘n arm en ‘n been. Maar wie nie waag nie, wen nie. (Amper enigiets kan gevriesdroog word).

5. Berook

Mense wat vleis berook, doen dit gewoonlik omdat dit so lekker is, eerder as om te preserveer. So dien dit ‘n dubbele doel. Dis nie eers nodig om ‘n duur apparaat te koop nie, bou sommer jou eie rook-oondjie. Chop-chop! (Wie sal my kom help?)

6. Ge-‘biltong’

Wie ken nou nie hierdie boere-lekkerny nie? Maar hier is ‘n skakel spesiaal vir die yankees.

7. Gepekel

Week jou vleisie in ‘n eenvoudige mengsel van water, sout en suiker (opsioneel) vir ‘n hele paar weke aaneen. Stoor daarna by kampertemperatuur (verkieslik ‘n koeler kamer). Geniet! Lees meer daaroor hier.

8. Ge-’vet’

Gebaseer op die beginsel dat die vleis wat geïsoleer word van bakteriee en suurstof lank goed. Ek weet dat die boeremense hierdie metode gebruik het – maar die kennis het sedertdien verlore gegaan. As jou ouma nog weet hoe, vertel ons, GROOT asb!

9. Rilette

Amper iets soos ‘n vleis-smeer, en baie lekker, glo ek. As dit op die regte manier gemaak word, kan dit tot ‘n maand hou. Gaan kyk bietjie hier.

10. Suikerstroop

Weereens, isoleer die vleis. Pak dit binne-in suikerstroop, seël die bottel en siedaar – die vleisies bly baie langer goed. Vir die wat hou van… soetvleis.

Julle is welkom om te kom saamgesels op ons FB-groepie oor hierdie fassinerende onderwerp.