Gepubliseer op

Bruin het nie geweet nie.

Ek moet erken – boerdery is nie vir sissies nie.

Hier het ons nou pas ‘n pragtige dier verloor – een wat vir ‘n bul gemerk was, want Bruin was regtig mooi – geen teken van siekte nie. Miskien het hy stadiger geloop, of pyn gehad erens – ons kon daar niks van bemerk nie. Net skielik…. dood.

Hy was nie siek nie. Maar sonder dat ons dit kon sien, was sy hartspier ernstig  aangetas. Want Bruin het ‘n giftige plant gevreet.

Ons het al vantevore diere aan gifplante verloor. Mens raak dit nooit gewoond nie. En jy werk hard om te keer dat dit weer gebeur. Spandeer sekere tye van die jaar lang ure in die veld om gifplante uit te kap met die hand, want om gif met gif te bestry maak net nie sin nie.

Dit voel partykeer asof mens se lewe draai om gif of nie gif nie. Reg eet of nie reg eet nie. As mens praat van GIF, kom die prentjie op van ‘n klein bruin botteltjie met ‘n etiket. En die klassieke doodshoof-prentjie wat ernstig waarsku: GIF!

Maar in die tyd wat ons leef kom gif dikwels in die vorm van heel onskuldige preserveermiddels, geurmiddels, kleurmiddels. Alles wat kos LEKKER laat ruik, lyk en smaak. En lank laat ‘goed’ bly op die rak. Geen etiket wat waarsku GIF nie. Geen doodshoof-teken nie. Jy kan eet en geniet, tot die laaste happie, sonder om te besef wat jy jouself aandoen. Soos hierdie arme dier.

Gif is mos soos ‘n dief in die nag. Hy doen sy vernietigingswerk in die donker, wanneer die wagters op hul wagposte gaap en die poorte oopstaan. Gif in kos? Wie gooi nou gif in kos? Wie wil nou wins maak uit ‘n ander een se ellende?
En dan die ironie van ons beskaafde wereld – dat ons gif met meer gif wil bestry. Pille op pille op nogmaals pille.

Gif akkumuleer. Die hartspier (senuweestelsel, endokriene stelsel…) raak onherroeplik beskadig, en onderdrukkers en pynpille het weldra geen effek nie. Die arme liggaam kan eenvoudig nie meer ‘n druppel GIF hanteer nie….

Arme Bruin. Hoe moes hy ook nou weet.

WEES INGELIG oor wat jy eet.

Gepubliseer op

Plastiek of nie Plastiek nie?

Ons almal het teen die tyd die boodskappie intvang (per epos of Whatsapp) oor warm water in plastiek-waterbottels. Hoeveel daarvan is waarheid en hoeveel is skrikmaak?

Volgens die slimkoppe is dit inderdaad hoog tyd om te onderskei tussen die plastiekprodukte wat ons lewe soveel makliker maak, maar ook kankerwekkende hormoon-ontwrigters kan vrystel. Ons dink bv aan BPA (Bisfenol A), DEHA en DEHP.

Wat ons bring by die GROOT vraag:

Wat van die gewone, polistireen-bakkies, ‘gladwrap’ of voedselgraad plastieksakkies waarin ook ons SKOON Nguni-vleis verpak word… Is dit veilig?

Hier is ‘n paar FEITE:

  • Baie soorte kleefplastiek word van PVC vervaardig.
  • PVC word met DEHA behandel — ‘n nare kankerwekker.
  • DEHA “verdamp” maklik uit die PVC en migreer na vette (hmm – dink biltong, wors, maalvleis). Hoe warmer, hoe meer migrasie vind plaas.
  • Pakkies vleis lê dikwels vir dae aaneen in die koelrak, voor jy dit koop.
  • Wanneer jy jou pakkie gevries het, gebruik jy dikwels hitte om dit te ontdooi.

Maar die GOEIE NUUS is:

  • Polistereen is veilig, volgens Health Canada se riglyne (en hulle is baaie strenger as die FDA).

En die kleefplastiek?

  • Volgens ‘n artikel in die tydskrif Rooi Rose is supermark-handelsmerke, soos Spar Cling Wrap en Glad Wrap(deur ons gebruik), wel veilig en PVC-loos.
  • Watertrap-Nguni-vleis verpakking voldoen dus aan die strenger gesondheids-vereistes.

Dankie tog! 😉

‘n Laaste woordjie, omdat ons ekstra versigtig wil wees:

  • Bly weg van hitte (mikrogolf-oond, warm water, son), as jy vleis (of kos) moet ontdooi.
  • Ontdooi dit verkieslik binne die yskas (veral noudat dit weer warmer word).
  • Haal die pakkie die vorige dag uit.
  • As jy baie veilig wil wees, verwyder die verpakking heeltemal en laat die vleis in ‘n vlekvrye staal- of gas-skottel ontdooi.

Geniet!

Gepubliseer op

Daardie stukkie rooivleis op jou bord…

Het jy geweet: daardie stukkie rooivleis op jou bord kan dalk jou dood beteken? Nie nou dadelik nie maar regtig jong, jy moet oppas.

Hoor net hier — wetenskaplike studies het bewys dat rooi vleis:

* dalk aanleiding kan gee tot kanker.

* kan lei tot meer gediagnoseerde gevalle van diabetes.

* kan bydra tot die voorkoms van kardiovaskulêre afwykings.

Nee wag, wag… voor jy jou braaier weggee en jou tweede vrieskas afsit…   😉

Kom ons neem elke wetenskaplike studie met ‘n goeie knypie braaisout. Daar kan so maklik met woorde en syfers gespeel word – doelbewus of per ongeluk.

In die studies wat gedoen is:

         Is nie onderskei tussen geprosseerde, graangevoerde, hormoon-verrykte, antibiotika-gedokterde vleis aan die een kant, en onbehandelde, GMO-vrye, gras-gevoerde, hormoonlose vleis aan die ander kant nie.

         Is nie onderskei tussen onfikse rokende, alkohol-misbruikende rooi-vleis gebruikers, en gesondheidsbewuste rooivleis-verbruikers nie.

         Is nie onderskei tussen die wat gereeld hulle rooivleis kombineer met ‘slap tjips’ en die wat graag ‘vars groente’ daarmee saam eet nie.

En daar lê die hele knoop…

Is rooivleis ‘n ‘killer’ soos nuus-opskrifte net laasjaar weer berig het?

Navorsing dit, navorsing dat.. Om agter die kap van die byl te kom, lees hier. Maar… alles in ag genome, is die slotsom maar weer: “There are no convincing studies that red meat is harmful.”

(Kon ek hulle laaankal gesê het as hulle moeite gedoen het om MY te vra 😉  )

Nee wat, ons hoef nie skuldig te voel oor die rooivleisie op die bord nie. Die probleem lê nie by rooivleis nie, maar by watter rooivleis en hoe jy die res van jou lewe inrig.

Overgesetsynde:

* wat het die bees ingeneemGMO-graanvoer, ou brood, ‘n hormoonpilletjie, hoendermis of erger?

* wat het die slagter bygevoegMSG-speserymengsels en vleisversagters? Vullers?

* wat eet jy daarmee saam – ‘groenkragkos’ of ‘goeters’?

* hoe werk jy met jouself – rook-, drink-, slaap-gewoontes…?

Al hierdie faktore kan nogal ‘n rasende verskil maak as dit kom by jou gesondheid – maar onthou…

…as jy weet  waar jou vleis vandaan kom, kan jy eet met lus.

 

Gepubliseer op

Gee jy Knoffel vir jou hond?

 

Ek kan nie eers onthou wanneer en waar ons begin het om knoffel vir ons Nguni’s te gee nie. Knoffel is ‘n natuurlike antibiotika, met ‘n magdom voordele vir mense – goegeloer maar ‘n bietjie.

En vir beeste? Baie min word gesê oor knoffel vir beeste – mens lees wel hoedat organiese beesboere dit met sukses gebruik om hul diere gesond te hou. Net soos ons.

Maar oral word gewaarsku teen knoffel vir honde en katte – dis gif vir hulle. Die rede? ‘n Sekere wetenkaplike studie het dit bewys.

Ek gaan kort wees. Hoor bietjie hier:

Vier honde, 1,25ml knoffel per kg liggaamsgewig, elke dag vir sewe dae lank. (Dis nogal kwaai oordoen.) Die resultaat: hondsiek? Nee. Springlewendig.

Maar deur bloedmonsters onder ‘n mikroskoop te bekyk kon hulle uiteindelik iets teen knoffel ontdek: die rooi bloedselle het tekens van beskadiging begin toon.

(Ek kan dink — teen daardie hoë dosis sal enige opregte bloedsel begin protesteer.)

En hoewel die honde (en daar was maar net 4) self geen simptome van bloedarmoede getoon het nie (selfs na al daardie knoffel), word hierdie studie steeds aangehaal as bewys dat knoffel lewensgevaarlik is vir troeteldiere.

Ek wil voorstel dat hulle weer gaan kyk na knoffel. En diere.

Lees verder hier (dis baie interessant).

 

Gepubliseer op

Watertrap Weggee: Skoon Bene vir Beensop (Bonebroth)

Sommige van ons het al die lekker van bene afkook, ontdek. Maar as jy dit nog nie probeer het nie, moenie langer wag nie. Dis ‘n wonderlike manier om goeie, bekostigbare PROTEINE te bekom, en daarby sommer ook GELATIEN en minerale soos KALSIUM en MAGNESIUM  (iets wat mens veral bo 40 baie nodig begin kry) — in beensop kry mens alles, teen ‘n fraksie van die prys.

Of dit afval-bene is?

Nee, dis glad nie afval nie. Net oorskiet-bene, skoongesny, soos julle kan sien hierbo.

Wanneer ‘n bees-karkas verwerk word, bly daar noodwendig bene oor, waarvan die vleis afgesny is om maalvleis, wors, repies en blokkies te maak. Hierdie bene word mooi netjies opgesny in kleiner stukke (soos vir potjiekos of sop), en netjies verpak.

Dit is miskien nie ‘murgbene’ nie, maar net sulke goeie ‘sopbene’. Want dis nog vol stukkies vleis, sening en kraakbeen, en ~ wat die oog nie kan sien nie~ hope MINERALE soos kalsium en magnesium.

Ons gooi hierdie bene in ‘n pot met ‘n appel-asyn daaroor, en genoeg water, en laat dit prut vir minstens 5 ure (selfs tot 10 ure). Die sout kom eers teen die einde by. Die appel-asyn laat die minerale loskom, en met die sagkook word die kosbare gelatien vrygestel.

Uiteindelik haal ons die bene uit, en voeg groente en speserye/kruie by die sopperige fynvleisies om die heerlikste sop te maak.

Tussen hakies… ek het ‘n gratis e-boekie raakgeloop by WellnesMama met heerlike Beensop resepte —  Gaan kyk gerus daarna.

Gepubliseer op

Wat maak ‘n Saterdag lekker?

Ons lewe in ‘n tyd waar elkeen gedwing word om noukeurig te besluit oor waar hy koop en wat hy eet.

Dit mag algemene boerdery-praktyk wees om diere vet te maak op graan en ‘n hormoon-pilletjie agter die oor, maar is daar ooit werklik indringend gekyk na die langtermyn-effek op die gesondheid van die verbruiker?

Wie se verantwoordelikheid is dit per slot van sake?

Die boer s’n of die verbruiker?

Ons glo: beide s’n.

Die boer moet die ou in die spieël in die oë kan kyk elke aand.

Die verbruiker moet aan die ou in die spieël kan verduidelik hoe en waar hy sy goeie gesondheid behou of verloor het.

Goeie gesondheid is onskatbaar van waarde. Mens gaan nie ligtelik daarmee om nie.

By Watertrap doen ons werklik ons bes om die vleisie aan die vurk op sy gesondste en lekkerste te hou. En die Nguni’s doen hul deel. Hulle beskik oor die uitsonderlike vermoë om droë gras om te sit in sappige tjops. Met net ‘n klein bietjie versorging en nugter verstand. 😉

My wens is dat elkeen vanaand by die braaivleisvuur met ‘n geruste hart sy bord mag uithou vir ‘n geurige, sappige stuk Nguni-vleis.

Smaaklike ete!

Wat maak ‘n Saterdag braai so lekker…