Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Wie kom saam?

Dit maak my so bly dat daar al meer kompetisie op die skoonvleis-mark is die laaste tyd. Dit dui op ‘n groeiende behoefte om SKOON te eet. Al meer mense kyk nou rond en vra: Watter vleis? Waar? Waarom?

Wel, waarom Watertrap?

Want:

…ons Nguni’s is omgewings-vriendelik.

So… GRAS-vretende koeie los meer gasbommetjies as GRAAN-vretende koeie? Oeps! 😃

Hoe laf kan mens raak? Alle gras moet vrot (fermenteer), of dit nou in die koei se maag is, of op die grond. Dit moet en dis goed. Wat uitgehaal word, word teruggesit, en selfs meer. Dink aan die miljoene der miljoene lewende organismes in en bo-op die grond — ons ingesluit. 😉

…Ons Nguni’s is ver genoeg EN naby genoeg.

Ons lug, water, gras — alles is twee uur skoner as in die stad, maar terselfdertyd is ons nie onbereikbaar ver nie. Waarom vleis van onopspoorbare (of voerkraal-) oorsprong eet, terwyl die allerlekkerste SKOON vleis tuisgemaak beskikbaar is?

Voeg daarby: ons is vriendelik en tegemoetkomend — gee ons kans om julle te wys.

…Ons Nguni’s is plat op die aarde.

Hulle is nie geregistreer nie. Nie as stoet nie — al verdien hulle dit oor en oor. Nie as Grass-Fed nie — al wei hulle op gras, nie graan nie. Nie as organies nie – al bly ons ver weg van antibiotika en wurmgif, want bosveld-bosluise is taai. Ons dip wel die helfte minder, danksy Knoffel en Aalwynpoeier, Diatomiese aarde, Mineraallek en Vitamines… 😊

…Ons Nguni’s is outyds.

Terug na die ou maniere! Waar nie met hul kosbare vleis gemors word nie en hul self hul gras ‘bemis’. Waar hul nog die kans gegun word om DIER-waardig op te groei, SONDER hormoon-pilletjies en strooitjies. Waar ‘n koei nog ‘n koei kan wees, en ‘n bul… ‘n BUL van ‘n bul.

…Ons Nguni’s skuil nie agter ‘ORGANIC’ of FREE ‘RANGE’ of GRASS_FED’ nie.

Die feit dat ons nie geregistreer is nie, beskerm ons dalk juis teen al die oneerlikheid gepleeg in naam van Grass-fed, Free Range en Organic. Ons het nie nodig om iets weg te steek ter wille van naam of profyt nie. EN ook – ons vleis word realisties geprys. Ons moet lewe — ons kliente ook.

So… wie stap saam? Met ons Watertrap-skoene aan — Hoeeii, HUP!