Gepubliseer op

Alweer ANDERS…

En ja… ons is alweer anders.

Ons boer met beeste – baie mense boer met beeste — maar so wragtie, ons is alweer anders – want ons boer nie met die mooigoed, rooigoed, die ronde, vet beeste nie. Ons boer met slanke, gespikkelde, gekolde Afrika-beeste. As hulle die veilingring instap kyk almal skielik skeef, en hoor mens snedige opmerkings, die katterige gekikker – want ons beeste is anders.

Hulle het horings, hulle het patrone, hulle het mooi, fikse lyfies, en kyk net hoe mooi tel hulle kop op en kyk die spotters reg in die oog. Hulle is net eenvoudig — anders.

Ek het dit weer nou die dag besef toe ek (vir die soveelste keer) moes hoor: “Ag man, ‘n Nguni is nie ‘n bees nie. Kyk net hierdie T-bene. Kyk net die Rump… daar is eenvoudig te min van hom!”

Waarom die grootte van die bees saak maak, as mens per slot van sake per kg betaal, kan ek nou nog nie klein kry nie. Maar ek antwoord:

“ ‘n Nguni is iets op sy eie — Bos indicus, dis wat hy is. Die meeste ander beeste is vanaf Europa hierheen gebring — Bos taurus, dis wat hulle is.“

En toe ek sien ek het sy aandag, vertel ek hom MOOI:

As die gewone beeste omkap van ellende (die son skroei hul dood, die gras kry hulle nie vet nie, die bosluise vreet hulle lewendig op, die siektes maai hulle af) dan staan daardie Nguni-tjie nog stewig op sy eie vier bene. Meer nog —

Nguni’s se vleis is lekker sag, hulle word nie sommer siek nie, die bosluise kry hulle nie maklik onder nie, die koeitjies maak hul kalfies mooi groot – jaar na jaar – soms twee keer in een jaar – ‘n Nguni hóórt in Afrika.

Kyk net, (gaan ek aan, nou mooi op dreef) hoe sukkel die arme boere. Hulle beeste moet soos babatjies dopgehou word. O, hulle het vet, ja — hulle is groot en fris –- en dis net Texas-steak op Texas-steak.

Maar om daardie homp vleis op jou bord te kry, kos die boer baaaaie medisyne, hormoonpille, dip en voer. Daardie vleisie se naam is Gif, GMO en Geld.

Neem nou hierdie stukkie Nguni-vleis, wat kwansuis te klein en te min is. Hierdie stukkie vleis kan ek met ‘n skoon gewete op jou bord sit.

Die jong ossie wat ons geslag het, het op skoon gras en water gegroei, en reggekry om ‘n stukkie gesonde vet te versamel SONDER Gif, GMO en Geld. Hierdie vleisie se naam is: Uit die Gras, op die Grond en Gesond

Gaan eet nou hierdie skattige T-beentjie en sappige Kruisskyfie.

En wees bly dat ons en ons Nguni’s ANDERS is.

Anders…  anders was die wêreld mos maar ‘n baie droewige plek.

(En dit was die einde van die argument. 😉 )