My wens vir elkeen van julle…

Die vel wat ek in my hande hou is eenvoudig lieflik. Maar skaars ‘n uitsondering. Want dis een van die baie lieflike velle wat net lê en wag om lief gehê en bewonder te word.

Tog — hierdie een is nogal spesiaal. Hoe sal mens dit op papier beskryf? “‘n Glimmende donkerrooi, met wit vlekkies in ‘n uitsonderlike spikkelpatroon.” Maat die helfte is nog nie gese nie. Elke keer as ek ‘n vel byvoeg by die katalogus, doen ek my bes met die beskrywing, maar dit bly ‘n stryd. Die maklikste sou wees om bloot te se: Kom kyk vir jouself. Kom voel, kom hoor, en kom ruik hierdie lieflike Nguni-vel. Want ‘n goed-gelooide Nguni-vel is ‘n belewenis vir meer as een sintuig. En oor elkeen kan mens ‘n storie vertel… 

Ek hoor dat skilders soms seerkry as hulle een van hul werke moet verkoop. Omdat dit te veel deel van hom geword het. Miskien is dit hoekom ek elke keer skoon seerkry as ek ‘n vel moet laat gaan. Met elke vel dink ek onwillekeurig: Hierdie een moet ek hou! Soos nou weer.

Hiérdie vel, is ‘n ware lus vir die oog. Dit was Prinses se kind, ‘n bulletjie, mooi fris gebou. Een van die laaste kallers wat sy vir ons grootgemaak het. Ek was so jammer die dag toe sy moes gaan. Maar ek glo sy is gelukkig by die nuwe baas. Ek vou die vel toe (versigtig, op die voorgeskrewe manier, om die minste voumerke te maak) en gooi die volgende vel oop.

Dis ‘n grootte. Regtig groot. Want dit was eens op ‘n tyd die netjiese gespikkelde jas van een van ons beste bulle: Genl. Beyers. Ou Beyers is op ons plaas gebore en getoë. Nooit humeurig nie, altyd gesond. Na ‘n goeie lang lewe, en ‘n pragtige klomp kalwers het die jare uiteindelik teen hom begin tel. Goeie herinneringe. Miskien sal die nuwe eienaar van die vel daarvan hou om te weet wie Beyers eintlik was…

En dan is daar die laaste velletjie wat vandag moet gaan: sjokoladebruin met ‘n liederlike hap in die sy. Waar was sy ma tog gewees, dat die tier hom so maklik kon bykom?  Maar ja, ‘n luiperd skrik ook vir niemand nie, nie eers ‘n Nguni-koei met ‘n ordentlike paar horings nie. Toe ons die kalfie vroegoggend kry was hy al yskoud – en sopnat. Ons het hom net daar in die reen afgeslag sodat ons ten minste sy pragtige velletjie kon behou. En sodat iemand vandag aan sy vriende die hartseer verhaal kan vertel terwyl hul vingers oor die happerige rand en die fyn vlekpatroontjie streel.

Ek wens elkeen van julle kan ten minste een Nguni-vel besit om jou huis en dag mooi te maak. Maar moenie dit op jou vloer gooi nie. Rangskik dit oor jou sitkamerbank, drapeer dit oor jou duur vleuelklavier of, beste nog — hang dit teen jou slaapkamermuur. Dalk droom jy elke nag van groen vleigras en blou lug…


NS: Kom besoek gerus ons stalletjie by Kragdag (8, 9 en 10 Aug 2019) en bekyk ons lieflike velle van naby.

Inline image