Gepubliseer op

Hoeveel sterte het ‘n vis?

Een aand toe ons aan tafel sit, vra my jongste uit die bloute:

“Ma, hoeveel sterte het ‘n vis nou eintlik?”

Ek sit gewoonlik die ‘stertjie’-deel in haar bord, want dit het mos nie grate nie. En as daar nog ‘n stukkie oor is, kry sy dit ook (kyk, my kind se eetlus het nog nooit iets makeer nie, behalwe as sy rerig siek is). So dit moes vir haar gelyk het asof ‘n vis meer as een stert moet he. Die liewe kleinding.

Wat my nogal aan die dink gesit het.

Hoe verstaan ons kinders vleis? Plaaskinders leer van kleins af – daardie dier wat in die veld loop en wei, kan more dalk slagpale toe ry – dit is waarvoor hy daar is – om mense te help voed.

Maar met stads- of dorps-kinders is dit nie sommer die geval nie. Hier rondom die ouderdom van 3 of 4  jaar kom hulle skielik tot die skokkende besef dat die stukkie vleis op hul bord eens pote (en stert) gehad het. Dit kan nogal traumaties wees vir so ‘n sensitiewe klein sieltjie. En lei tot baie vrae.

“Hoekom maak ons diere dood? Hoekom eet ons vleis? Hoekom?”

Waar begin mens?

Ek dink die beste is, begin by voeltjies. Wat eet ‘n voeltjie? Wurmpies! Dis hulle kos.

Wat eet ons? Eiers. Maar wat is ‘n eier anders as ‘n hoender? Dis ook maar vleis. EN dis goeie kossies.

Beeste eet gras, wat ons nie kan eet nie, maar ons kan vleis eet. Meer nog, ons het dit regtig, egtig nodig. Dit maak ons spiere sterk, dit laat ons groei (en wie wil nou nie groei nie, veral as jy 3 jaar oud is ) en… dit gee ons baie energie.

Arme diertjies? Nee, nie arme diertjies nie, solank daardie diertjies ‘n gelukkige lewe gelei het op ‘n pragtige boereplaas, en goed versorg is deur ‘n gawe boer, en op die regte manier geslag is (vinnig en pynloos), is daar niks om oor sleg te voel nie.

Wanneer moet ons sleg voel? Aha! Ek dink dáár is baie stof vir sinvolle gesprekke. Dink net ‘Factory Farming’ en ‘GMO’…

Ek dink ons moet ons kinders reeds van kleins af leer om verantwoordelik met hul kos om te gaan.

(En onthou: ‘n bees het net een stert. 😉 )