Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Roei kerels, roei!

Daar is soveel edel gedagtes en strewes in die wêreld, waarmee ons almal saamstem.

Die natuur moet bewaar word. Ons moet ophou om ons omgewing te besoedel. Wegbeweeg van “factory farming”. Verantwoordelik boer. Jou diere onnodige lyding spaar. Terugkeer na die ou, natuurlike metodes.

Dit is miskien so dat geldige klagtes ingebring kan word teen vele van die (algemeen toegepaste) landboumetodes. Daar word ongelukkig soms kort-termyn besluite geneem (hoeveel geld kan ek nou hiermee inbring?) eerder as om verder vooruit te dink (watter effek gaan dit hê op my boerdery-volhoubaarheid?) Die gebruik van chemiese gifstowwe is hier veral ‘n groot kopseer. (Hoe gaan ons eendag ons kinders in die oë kan kyk?)

Maar dit is beslis ook so dat ons boere dikwels deur omstandighede gedwing word om skadelike boerdery-metodes te ‘pleeg’. Ek dink bv. aan oorbeweiding. Diere word in kampe gehou tot lank na die weiding op is, en die grond so vertrap en verniel is dat dit jare neem om weer te herstel. Hulle kan nie anders nie, want groot dele van die land is gewikkel in ‘n ernstige droogte, en dis ‘n geval van uithou en deurdruk.

Ek weet, baie plekke het reën gehad sedert einde November, maar dikwels net stofnat. En onthou, dit reën nie gras nie. Vingerwys is maklik, maar help niemand nie.

Boerdery in Suid-Afrika is nie speletjies nie. Vroëer het ons regering dit terdeë besef, en was droogtehulp, ramphulp en lenings deel van die staat se begroting, tot almal in die land se voordeel. Daardie ondersteuning bestaan nie meer nie. En dit is nodig dat ons dit besef. Dis hier waar ons sal moet saam roei of saam sink.

Party van ons is in die groot stad vasgeknyp tussen selfoontorings en palisade-heinings, wentel elke dag tussen giftige dampe, swaar verkeer en dooie kantoorlug; ander baklei met die daaglikse werklikheid van brandende droogte, dodelike nat koue, landelike veiligheids-risiko’s.

Waarheid is: ons almal worstel om kop bo water te hou. Of jy nou verbruiker is, of verskaffer – ons is almal in dieselfde bootjie. Op dieselfde stormsee. Ons word almal geraak deur mekaar se besluite. Waar ons koop, wat ons koop, wat ons verkoop.

So, kom ons:

* staan saam teen massa-geproduseerde, hormoonbelaaide, gekleurde en gepreserveerde produkte.

* maak ‘n punt daarvan om te vra na SKOON groente en SKOON vleis.

* maak ons behoefte bekend aan die boere – en motiveer hulle om SKOON te boer.

* wees bereid om aktief by te dra tot ons almal se voordeel

(Ek weet ons kan!)

Roei, kêrels, roei!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui