Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Veilig in die kudde

Ons was veilig binne die kudde, of so dag ons. Buurtwag-patrollies, ‘n splinternuwe veiligheidshekke op die publieke toegangspaaie, goeie polisie-en gpf-samewerking, kameras op al die hoeke en bure wat paraat is… Ons het alles gedoen wat almal doen.

Maar tog was ons nie veilig nie. Die rowers het ons opgespoor, ons gewaande skanse oopgebreek en ons gevoel van sekuriteit vernietig. Soos dit moes kom, was ons was nie tuis nie. Die rowers het laaie uitgeruk, kabels afgeknip, ‘n paar waardevolle items in ‘n rugsak geprop en die wyk geneem. Ons was gelukkig. Die les was nie hard nie – maar dit was nodig om weer te onthou:

Geen skanse buite-om is ooit voldoende nie. En mens kan nie — mag nie — jou verantwoordelikheid vir jou eie veiligheid ontduik nie. Om jou sekuriteit op te bou, is net soos om jou gesondheid op te bou — dit moet van binne ontwikkel.

Gesondheid word deesdae sterk gekoppel aan inentings en dis alles hoogs kontroversieel. So baie vrae hang in die lug – Wat, bv. van “herd immunity” – kudde immuniteit? 

Hoe werk dit? Werk dit?

‘n Bees-boer het eerstehandse kennis van die dinamika van die kudde. 

En ja, dis waar. Binne die trop is die individu beter beskermd teen gevare van buite. 

En ja, as een siek word, kan hy maklik die ander aansteek. 

MAAR dis veral so dat die kudde uit individue bestaan, met verskillende grade van weerstandigheid, teen verskillende siektes. Die vraag is : kan mens kudde-immuniteit herprogrameer volgens jou voorkeur, deur almal dieselfde inspuiting te gee?

Ons weet onse Vader het alles wonderlik goed gemaak. Mens dier en plant beskik oor ‘n natuurlike vermoë om siektes (en aanvalle) die weerstand te bied. Moet ons nie daardie natuurlike immuniteit toelaat om van binne te ontwikkel, in plaas van om dit van buite te probeer forseer nie?

Is die verantwoordelike manier nie om natuurlike immuniteit te bou met behulp van natuurlike boustene — van binne – nie?

Met goeie kos, kragtige vitamines, opbouende minerale en skoon water en lug… behoort ons en ons diere ‘n goeie kans te kry om verantwoordelikheid te neem vir ons gesondheid – en self natuurlike weerstandigheid te bou. 

Hoe sê die appostel? Bid en smeer die olie aan. 😉

Veilig wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui