Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Mag hulle lank en gelukkig leef…

Katryn, die Great Dane.

Ek is nogal lief vir my hond – al ons honde (en katte 😉). Hulle is verantwoordelik vir ‘n groot deel van die lekkerlag (en hartseer) in my lewe, en dis sekerlik nie anders gesteld met meeste van ons nie.

Ek onthou nou nog vir * Klara (wat elke keer die motorhuis se deur oopgemaak, en die alarm afgesit het, tot ons haar op heterdaad betrap het), * Wollie (die lui wolfhondkruising — ‘n hopelose waghond, maar dierbare kindervriend) en *Oubaas (wat weggeloop het omdat sy mense getrek het, en eers maande later weer verskyn het – toe pos hulle hom maar plaastoe).

En dan was daar ou * Brutus, die yslike swart Great Dane, wat ewe dapper in die grondpad aangestap gekom het – baie dors en baie honger, maar ‘n regte ou ‘gentleman’. (wie sou hom daar afgelaai het? Was hy ‘te oud’? Het hy ‘te veel’ geeet?).

Dis omdat ek vir Brutus leer ken het, dat ek vandag weer ‘n Great Dane op my werf het. Katryn het haar naam gekry toe my jongste se tongetjie wou knoop. Great Dane = kredein = Katryn. Die grootste hond op die werf, en die domste 😃 Sy is my ou hond(jie) wat nie wil ‘grootword’ nie – ‘n regte hondekind – vol lawwigheid en hope liefde.

Ek het baie opgelees oor haar ras en ja, dis my Katryn daai: “…they are not good choices for …those with no sense of humor… a heavy dog who wants to sit on your feet or lean his weight against your leg… rowdiness and exuberant jumping when young” (“Mamma, Katryn het alweer op my getrap!”). Nee wat, so erg gaan dit darem nie want sy is ook “…easygoing and mild-mannered”. 😉

Wat my egter geskok het, is dit:

“(Great Danes are) frequently stricken in middle age by crippling joint and bone disorders, heart disease and cancer.”

My hondjie, vroeg doodgaan, met baie pyn en swaarkry? Ek het myself voorgeneem dat ek my bes gaan doen om dit te voorkom.

Katryn, jy weet net nie, maar jy is op die beste plek waar ‘n Great Dane maar kon geland het. ‘n Beesplaas waar beeste net gras eet. En waar honde net vleis eet? Nee, nie heeltemal nie (hulle eet ook pap en groente), maar… hier is genoeg binnegoed, bene en vleis dat ons honde gereeld ‘n porsie kan kry. En hulle blink!

Mag Katryna (en al onse hondekinders) lank en gelukkig leef.

Naskrif: Omdat ons nie ‘n slagpale bedryf nie, kan ons ongelukkig nie  konstant dieselfde honde-lekkernye aan ons kliente verskaf nie, maar daar is wel gereeld long, niere, milt, pens en hondebene beskikbaar (alles wat Katryn nie opgevreet het nie, ha-ha).

Kontak ons gerus, vir ‘n honde bederfie  – en gaan lees hier meer oor ‘n rou dieet vir honde.