Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Hoe om op te hou… wind sluk!

Die nuwe jaar is in volle swang. Ons het in Januarie weggespring met ‘n vaart, en alles hardloop voor die wind. Elke dag het genoeg aan sy eie dinge. Ons jaag van afspraak tot afspraak, van wasgoed bondel tot bondel, van opstaantyd tot slaaptyd, van spertyd tot spertyd.

Dit is kompleet asof die geheimsinnige grys menere van Michael Ende se storietjie, MOMO, ons aan die kort hare beet het. Iemand steel die tyd, want waarom is daar net nie meer tyd vir alles nie?

Ons het al minder tyd vir mekaar, vir ons gunsteling-tydverdryf, vir ordentlik eet… en bitter min tyd vir die noodsaaklikste van alles – geestelike voedsel.

Mens dink onwillekeurig aan wat in die Bybel staan: “Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Pred.1:14)

Dit kan reggestel word – het ons nie die Bybel in ons hand nie? Ons mag dit immers elke dag oopslaan en daaruit leer.

Daar word heelwat gepraat oor hoe ons moet leef en hoe nie; wat ons mag en moet eet, en wat nie. Dit kan baie ingewikkeld gemaak word. Of baie eenvoudig:

Ons liggaam is ‘n tempel van God (1Kor.3:16) en ons moet dit skoon hou, heilig, afgesonder vir God.

Dit alleen behoort ons grootste (indien nie enigste) rede te wees om gesond te eet.

In kort: Moenie oorboord gaan nie – hou matigheid voor oë, en behou die goeie balans.

En kyk net ‘n bietjie wat raai Paulus vir Thimotheus aan: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.” (1 Thim. 5:23)

“En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God.” (Pred.3:13)

Ons hoef nie wind te sluk of na te jaag soos die denkbeeldige mense in MOMO se stad of die werklike mense in Salomo se boek Prediker nie.

Ons mag nog heerlik eet en drink solank – SOLANK —  ons dit verantwoordelik en dankbaar doen.

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” ( 1Kor. 10:31)

‘n Laaste woordjie:

As ons tyd maak vir dit wat ons die nodigste het, voedsel vir die gees, sal ons merk dat tyd aan ons gegee word…

Mag julle ‘n mooi Februarie hê.