Gepubliseer op

Ek ken jou pyn…

Ek weet van baie van ons se pyn. Ek weet, dat baie van ons wanhopig  voel — oor braaivleis. En dalk ook oor Nguni-vleis. En ek is seker ek kan help.

Nguni-vleis is nie regtig taai nie – solank dit jonk genoeg geslag is, lank genoeg gehang is en die regte manier geslag is. Feit bly, dit is nie bottersag nie. Dit kan wees nie. Want dit bevat juis ‘n goeie dosis gesonde kollageen(bindweefsel) — wat ons so nodig het vir ons litte en spiere. En dis wat maak dat die taaier vleisies gewoonlik ook die lekkerste proe. Maar die lewe kan so bitter ongemaklik raak, as mens nie kan kou soos jy graag wil nie.

Moenie moed verloor nie.  Gaan probeer die volgende:

  1. ‘n Goeie Loesing(en raak sommer van jou vleis-frustrasies ontslae): Sit jou stukkie braaivleis op ‘n hout-broodbord neer, neem jou vleismes/byltjie stewig in die hand en looi die vleise met die snykant van rand tot rand. Roteer en herhaal, tot hy slap en dun is. (Hou die braaityd kort en vinnig.)
  2. Vrugteslaai-braai: As die stukkie braaivleis been bevat, probeer hierdie manier. Laat jou vleisie ‘n paar uur staan in die sap of pulp van die volgende vrugte Pynappel,  Papaja of Kiwi-vrugte en laat daardie goeie ensieme toe om jou vleisie sag te maak. (Oppas vir te lank laat lê, dit kan jou vleisie effens ‘melerig’ maak).
  3. Swaer Boeta se Marinade(die stoute plan vir so nou en dan… 😉): Laat rus die vleisie oornag in ‘n mengsel van (gelyke dele) bruinsuiker, worcestersous en olyfolie. Haal uit die sous, laat bietjie drup , gooi op die rooster. En heel LAASTE, as hy gaar is, sout na smaak. Njam!
  4. Suur Sous(eenvoudig en gesond):  Laat lê die vleisie oornag in Karringmelk, Jogurt, Suurlemoensap (oppas vir te veel, dit kan ‘n effens bitter nasmaak gee) of sommer net Rooiwyn of Appelasyn. Meng en pas, en moenie die skoot olyfolie vergeet nie. Byvoorbeeld: 5ml Suurlemoensap, 10ml Olyf olie, 150ml Karringmelk 
  5. Sout en Peper (na swaar Boeta se marinade, die lekkerste manier): Sout jou vleisie goed in met 1 teelepel growwe seesout, aan beide kante. Dan die kruie of speserye waarvan jy hou, aan beide kante. Stop hom in die yskas vir ‘n ruk — hoe dikker, hoe langer (‘n uur per duimdikte, of selfs langer). Nou begin die pret. Spoel al die sout af en druk beide kante HEELTEMAL droog. Op die kole, in die pan of in die oond. Nie te lank nie, dan haal jy dit daar uit, geur met peper en ‘n stukkie botter of vet en roep die mense. (Jy sal heel moontlik vind dat jy nie nodig het om weer sout op te strooi nie).

Gaan probeer dit net. Belowe?

ONTHOU:

* Gebruik altyd ‘n glasbak om jou gemarineerde of gesoute vleisie in te laat lê (vermy yster, aluminium, plastiek en selfs vlekvrye staal-houers).

* Hou die vleisie altyd in die yskas vir die duur van die marinering/soutbehandeling.

Ontdooi jou vleisie heeltemal voor jy bogenoemde metodes toepas.

(foto geleen)