Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Hoe om op te hou… wind sluk!

Die nuwe jaar is in volle swang. Ons het in Januarie weggespring met ‘n vaart, en alles hardloop voor die wind. Elke dag het genoeg aan sy eie dinge. Ons jaag van afspraak tot afspraak, van wasgoed bondel tot bondel, van opstaantyd tot slaaptyd, van spertyd tot spertyd.

Dit is kompleet asof die geheimsinnige grys menere van Michael Ende se storietjie, MOMO, ons aan die kort hare beet het. Iemand steel die tyd, want waarom is daar net nie meer tyd vir alles nie?

Ons het al minder tyd vir mekaar, vir ons gunsteling-tydverdryf, vir ordentlik eet… en bitter min tyd vir die noodsaaklikste van alles – geestelike voedsel.

Mens dink onwillekeurig aan wat in die Bybel staan: “Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Pred.1:14)

Dit kan reggestel word – het ons nie die Bybel in ons hand nie? Ons mag dit immers elke dag oopslaan en daaruit leer.

Daar word heelwat gepraat oor hoe ons moet leef en hoe nie; wat ons mag en moet eet, en wat nie. Dit kan baie ingewikkeld gemaak word. Of baie eenvoudig:

Ons liggaam is ‘n tempel van God (1Kor.3:16) en ons moet dit skoon hou, heilig, afgesonder vir God.

Dit alleen behoort ons grootste (indien nie enigste) rede te wees om gesond te eet.

In kort: Moenie oorboord gaan nie – hou matigheid voor oë, en behou die goeie balans.

En kyk net ‘n bietjie wat raai Paulus vir Thimotheus aan: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.” (1 Thim. 5:23)

“En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God.” (Pred.3:13)

Ons hoef nie wind te sluk of na te jaag soos die denkbeeldige mense in MOMO se stad of die werklike mense in Salomo se boek Prediker nie.

Ons mag nog heerlik eet en drink solank – SOLANK —  ons dit verantwoordelik en dankbaar doen.

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” ( 1Kor. 10:31)

‘n Laaste woordjie:

As ons tyd maak vir dit wat ons die nodigste het, voedsel vir die gees, sal ons merk dat tyd aan ons gegee word…

Mag julle ‘n mooi Februarie hê.

Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Roei kerels, roei!

Daar is soveel edel gedagtes en strewes in die wêreld, waarmee ons almal saamstem.

Die natuur moet bewaar word. Ons moet ophou om ons omgewing te besoedel. Wegbeweeg van “factory farming”. Verantwoordelik boer. Jou diere onnodige lyding spaar. Terugkeer na die ou, natuurlike metodes.

Dit is miskien so dat geldige klagtes ingebring kan word teen vele van die (algemeen toegepaste) landboumetodes. Daar word ongelukkig soms kort-termyn besluite geneem (hoeveel geld kan ek nou hiermee inbring?) eerder as om verder vooruit te dink (watter effek gaan dit hê op my boerdery-volhoubaarheid?) Die gebruik van chemiese gifstowwe is hier veral ‘n groot kopseer. (Hoe gaan ons eendag ons kinders in die oë kan kyk?)

Maar dit is beslis ook so dat ons boere dikwels deur omstandighede gedwing word om skadelike boerdery-metodes te ‘pleeg’. Ek dink bv. aan oorbeweiding. Diere word in kampe gehou tot lank na die weiding op is, en die grond so vertrap en verniel is dat dit jare neem om weer te herstel. Hulle kan nie anders nie, want groot dele van die land is gewikkel in ‘n ernstige droogte, en dis ‘n geval van uithou en deurdruk.

Ek weet, baie plekke het reën gehad sedert einde November, maar dikwels net stofnat. En onthou, dit reën nie gras nie. Vingerwys is maklik, maar help niemand nie.

Boerdery in Suid-Afrika is nie speletjies nie. Vroëer het ons regering dit terdeë besef, en was droogtehulp, ramphulp en lenings deel van die staat se begroting, tot almal in die land se voordeel. Daardie ondersteuning bestaan nie meer nie. En dit is nodig dat ons dit besef. Dis hier waar ons sal moet saam roei of saam sink.

Party van ons is in die groot stad vasgeknyp tussen selfoontorings en palisade-heinings, wentel elke dag tussen giftige dampe, swaar verkeer en dooie kantoorlug; ander baklei met die daaglikse werklikheid van brandende droogte, dodelike nat koue, landelike veiligheids-risiko’s.

Waarheid is: ons almal worstel om kop bo water te hou. Of jy nou verbruiker is, of verskaffer – ons is almal in dieselfde bootjie. Op dieselfde stormsee. Ons word almal geraak deur mekaar se besluite. Waar ons koop, wat ons koop, wat ons verkoop.

So, kom ons:

* staan saam teen massa-geproduseerde, hormoonbelaaide, gekleurde en gepreserveerde produkte.

* maak ‘n punt daarvan om te vra na SKOON groente en SKOON vleis.

* maak ons behoefte bekend aan die boere – en motiveer hulle om SKOON te boer.

* wees bereid om aktief by te dra tot ons almal se voordeel

(Ek weet ons kan!)

Roei, kêrels, roei!

Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Een kwaai sweedse meisietjie.

Op ‘n dag , bietjie meer as ‘n jaar gelede het Greta Tunberg geweier om skool toe te gaan, en haar met ‘n tuisgemaakte plakaatjie voor die parlementsgebou neergeplak. Wat help dit om skool toe te gaan as die wereld môre vergaan? Haar protesaksie, het vinnig spoed opgetel totdat sy selfs die VN ewe vurig gaan sweepslag het. Hoe durf hulle praat oor geld, terwyl mense en ekosisteme sterf – hoe durf hulle! 

Sosiale media is gaande oor die kind. Almal beken bedees teenoor mekaar: dis waar, ons is skuldig.

Ja, ons is skuldig. Maar waaraan? 

  1. Ons moet ophou om te dink die wereld draai om onsself. Ons is hier om ons Skepper te dien.
  2. Ons moet ophou om Sy Skepping te verniel, en so goed ons kan terugkeer na die natuurlike ritme en orde.
  3. Ons moet ophou om elke liewe ‘feit’ onvoorwaardelik te glo. Ons moet sif met ‘n fyn siffie.
  4. Ons moet ophou om sosiale media – papagaaie te wees. Ons moet vir onsself dink!
  5. Ons moet ophou bang wees. Ons moet die leuen uitwys en die waarheid verkondig. Onbevrees en vurig.

Soos Greta.

Dis net so jammer dat dit blyk dat die kind heel moontlik die slagoffer is van ‘n wrede volwasse wereld. Want waarom het haar berugde skool-staking saamgeval met die loods van die publisteitsveldtog van haar ma, Malena Ernman se boek, oor aardverwarming? Dit was haar ma se bestuurder,  Ingmar Rentzhog, wat foto’s van haar en haar plakaatjie, op sosiale media gedeel het, en die hele debakel van stapel gestuur het.

Daar is meer wat pla.

  • Haar toespraak by Katowize Summit, is gelewer voor ‘n amper leë saal, maar jy sal dit nooit kan sê as jy nie die vernuftig-geredigeerde videobrokkie kyk nie.
  • Rentzhog het Greta se beeld gebruik om ook sy eie besigheid se aandele suksesvol te bemark. Die besigheid se naam is “We don’t have time” (en maak bemoeienis met  klimaatverwante kwessies).
  • Hoewel Greta en haar familie sedertdien bande verbreek het met Rentzhog, bly die wyse waarop sy in die kalklig staan, baie verdag. Die agressiewe beeld wat sy uitstraal,  die buitengewone aandag wat sy van die media en in die politieke wereld ontvang, die groot bedrae wat aan reisgeld  gespandeer word…?
  • Aspergers, OCD- en Autisme-lyers (en sy is gediagnoseer met aldrie) is bekend daarvoor dat hulle baie liggelowig is, dinge baie letterlik opneem en sukkel om te onderskei tussen realiteit en skyn.

As klein Greta werklik haar huiswerk doen (in plaas van skoolwerk), sou sy besef dat sy aan haar neusie rondgelei word. En haar ma? Sy behoort van beter te weet as om blindelings saam in die koor te sing. Of is dit alweer geld wat hier praat?

Want daar bestaan nie so iets as spoke, feëtjies en liewe heksies nie. Ook nie gate in die Osoonlaag nie. Ook nie grasgevoerde beeste wat met skadelike gasse die aarde se atmosfeer beskadig nie.

Aardverwarming, Metaangas-emissie, Koolstof-voetspoor, Kweekhuis-effek is alles woorde wat soos slange kriewel om die kop van Medusa. Ons staar ons so blind teen die vreesaanjaende slange, dat ons die Medusa-kop skoon miskyk nl. : sin tax.

Dit gaan oor geld. Alles oor die (onregmatige)  insameling van geld.

Kom ons wees wakker. Kom ons dink vir onsself.

“In questions of science, the authority of a thousand is not worth the humble reasoning of a single individual.” –Galileo Galilei

Die waarheid sal uit.

1. https://www.youtube.com/watch?v=TCy_UOjEir0

Nobel Laureate Smashes the Global Warming Hoax. Ivar Giaever’s speech at the Nobel Laureates meeting 1st July 2015.

2. https://www.therebel.media/_hole_in_the_ozone_layer_hoax_global_warming

“Hole in the ozone layer” hoax was the dry run for “global warming”, Tim Ball. 28 Okt 2016.

3. https://www.dailywire.com/news/9-things-you-need-know-about-climate-change-hoax-aaron-bandler

9 Things You Need To Know About The Climate Change Hoax. Aaron Bandler. 7 Okt 2016.

4. https://larouchepub.com/eiw/public/1989/eirv16n24-19890609/eirv16n24-19890609_018-cfcs_are_not_depleting_the_ozone.pdf

CFC’s are not depleting the Ozone Layer. EIR Science and Technology. Volume 16, Number 24, Jun 9, 1989.

Gepubliseer op Maak 'n opmerking

Veilig in die kudde

Ons was veilig binne die kudde, of so dag ons. Buurtwag-patrollies, ‘n splinternuwe veiligheidshekke op die publieke toegangspaaie, goeie polisie-en gpf-samewerking, kameras op al die hoeke en bure wat paraat is… Ons het alles gedoen wat almal doen.

Maar tog was ons nie veilig nie. Die rowers het ons opgespoor, ons gewaande skanse oopgebreek en ons gevoel van sekuriteit vernietig. Soos dit moes kom, was ons was nie tuis nie. Die rowers het laaie uitgeruk, kabels afgeknip, ‘n paar waardevolle items in ‘n rugsak geprop en die wyk geneem. Ons was gelukkig. Die les was nie hard nie – maar dit was nodig om weer te onthou:

Geen skanse buite-om is ooit voldoende nie. En mens kan nie — mag nie — jou verantwoordelikheid vir jou eie veiligheid ontduik nie. Om jou sekuriteit op te bou, is net soos om jou gesondheid op te bou — dit moet van binne ontwikkel.

Gesondheid word deesdae sterk gekoppel aan inentings en dis alles hoogs kontroversieel. So baie vrae hang in die lug – Wat, bv. van “herd immunity” – kudde immuniteit? 

Hoe werk dit? Werk dit?

‘n Bees-boer het eerstehandse kennis van die dinamika van die kudde. 

En ja, dis waar. Binne die trop is die individu beter beskermd teen gevare van buite. 

En ja, as een siek word, kan hy maklik die ander aansteek. 

MAAR dis veral so dat die kudde uit individue bestaan, met verskillende grade van weerstandigheid, teen verskillende siektes. Die vraag is : kan mens kudde-immuniteit herprogrameer volgens jou voorkeur, deur almal dieselfde inspuiting te gee?

Ons weet onse Vader het alles wonderlik goed gemaak. Mens dier en plant beskik oor ‘n natuurlike vermoë om siektes (en aanvalle) die weerstand te bied. Moet ons nie daardie natuurlike immuniteit toelaat om van binne te ontwikkel, in plaas van om dit van buite te probeer forseer nie?

Is die verantwoordelike manier nie om natuurlike immuniteit te bou met behulp van natuurlike boustene — van binne – nie?

Met goeie kos, kragtige vitamines, opbouende minerale en skoon water en lug… behoort ons en ons diere ‘n goeie kans te kry om verantwoordelikheid te neem vir ons gesondheid – en self natuurlike weerstandigheid te bou. 

Hoe sê die appostel? Bid en smeer die olie aan. 😉

Veilig wees.

Gepubliseer op Maak 'n opmerking

My wens vir elkeen van julle…

Die vel wat ek in my hande hou is eenvoudig lieflik. Maar skaars ‘n uitsondering. Want dis een van die baie lieflike velle wat net lê en wag om lief gehê en bewonder te word.

Tog — hierdie een is nogal spesiaal. Hoe sal mens dit op papier beskryf? “‘n Glimmende donkerrooi, met wit vlekkies in ‘n uitsonderlike spikkelpatroon.” Maat die helfte is nog nie gese nie. Elke keer as ek ‘n vel byvoeg by die katalogus, doen ek my bes met die beskrywing, maar dit bly ‘n stryd. Die maklikste sou wees om bloot te se: Kom kyk vir jouself. Kom voel, kom hoor, en kom ruik hierdie lieflike Nguni-vel. Want ‘n goed-gelooide Nguni-vel is ‘n belewenis vir meer as een sintuig. En oor elkeen kan mens ‘n storie vertel… 

Ek hoor dat skilders soms seerkry as hulle een van hul werke moet verkoop. Omdat dit te veel deel van hom geword het. Miskien is dit hoekom ek elke keer skoon seerkry as ek ‘n vel moet laat gaan. Met elke vel dink ek onwillekeurig: Hierdie een moet ek hou! Soos nou weer.

Hiérdie vel, is ‘n ware lus vir die oog. Dit was Prinses se kind, ‘n bulletjie, mooi fris gebou. Een van die laaste kallers wat sy vir ons grootgemaak het. Ek was so jammer die dag toe sy moes gaan. Maar ek glo sy is gelukkig by die nuwe baas. Ek vou die vel toe (versigtig, op die voorgeskrewe manier, om die minste voumerke te maak) en gooi die volgende vel oop.

Dis ‘n grootte. Regtig groot. Want dit was eens op ‘n tyd die netjiese gespikkelde jas van een van ons beste bulle: Genl. Beyers. Ou Beyers is op ons plaas gebore en getoë. Nooit humeurig nie, altyd gesond. Na ‘n goeie lang lewe, en ‘n pragtige klomp kalwers het die jare uiteindelik teen hom begin tel. Goeie herinneringe. Miskien sal die nuwe eienaar van die vel daarvan hou om te weet wie Beyers eintlik was…

En dan is daar die laaste velletjie wat vandag moet gaan: sjokoladebruin met ‘n liederlike hap in die sy. Waar was sy ma tog gewees, dat die tier hom so maklik kon bykom?  Maar ja, ‘n luiperd skrik ook vir niemand nie, nie eers ‘n Nguni-koei met ‘n ordentlike paar horings nie. Toe ons die kalfie vroegoggend kry was hy al yskoud – en sopnat. Ons het hom net daar in die reen afgeslag sodat ons ten minste sy pragtige velletjie kon behou. En sodat iemand vandag aan sy vriende die hartseer verhaal kan vertel terwyl hul vingers oor die happerige rand en die fyn vlekpatroontjie streel.

Ek wens elkeen van julle kan ten minste een Nguni-vel besit om jou huis en dag mooi te maak. Maar moenie dit op jou vloer gooi nie. Rangskik dit oor jou sitkamerbank, drapeer dit oor jou duur vleuelklavier of, beste nog — hang dit teen jou slaapkamermuur. Dalk droom jy elke nag van groen vleigras en blou lug…


NS: Kom besoek gerus ons stalletjie by Kragdag (8, 9 en 10 Aug 2019) en bekyk ons lieflike velle van naby.

Inline image
Gepubliseer op Maak 'n opmerking

‘n Plan is ‘n Boerdery.

Januarie is die maand vir goeie voornemens – nou ja, hier is ons s’n:

Om nie ons ore aan enigiemand uit te leen nie. Ons het jare gelede 5 van ons beste, sterkste vrugbaarste koeie verkoop op openbare veiling. Hoekom? Want hulle het draadgespring. Vandag weet ek, die beste koeie sorg vir hulself. As hulle draadspring, kyk ek anderkant toe, of skuif die hele trop oor. Partykeer kan welbedoelde raad groot skade aanrig – in ‘n boerdery, in elk geval.

Om nie ou koeie uit die sloot te haal nie. Gedane sake is geskiedenis. Dit het gebeur, en die beste wat mens nou kan doen, is om vorentoe nie dieselfde fout te maak nie. Bella kan nie weer teruggebring word nie, maar ons het gelukkig nooit vir Belladonna verkoop nie – nog ‘n geswore draadspringer. En sy gee steeds pragtige kallers – maak nie saak of sy binne die kamp of daarbuite is nie.

Om die bul by die horings te pak. Amper al genl. Koos se kallers het met pienk neuse in die wereld gekom – en dit beteken swak pigmentasie, wat weer lei tot geneigdheid tot sonbrand. Hy was so ‘n mooi bul, sonder enige probleme, maar op die ou end moes ons maar die besluit neem, en hom EN sy kinders verkoop. Moenie uitstel om ‘n fout reg te stel nie.

Om die sukkelaars dubbel kans te gee, want agteros kom ook in die kraal. Moenie sommer moed opgee as iets lyk of dit reg wil kom nie. Daardie koeitjie met die ontsteekte oog, die versie wat haar been beseer het, die hanskalfie met die boepens – het almal op die ou end die paal (of die kraal) gehaal. Aanhouer wen!

Hoe sê hulle?

‘n Plan is ‘n Boerdery.

Alles van die beste vir 2019.

Nguni-koeie in die groen veld saam met wit reiers.
Gepubliseer op

Toe Oupa ge(s)lag het…

Ek wou julle nog vertel het van die dag toe ons as kinders vir die eerste keer vir oupa help bees slag het. Ons het so gelag dat ons skaars die pens kon vashou. Watter pens? Die bees se pens natuurlik!

Oupa was ‘n goeie skut, en het die koeitjie onder ‘n gerieflike boom in haar spore laat neersak. Maar teen die tyd dat ons alles mooi onderstebo opgehys het en die vel afgeslag het, raak dit net mooi donker… en donkerwerk, soos julle weet, is konkelwerk.

Ons het lank gespook in die kar se ligte — daardie tyd het niemand nog die kopflits uitgevind nie. Dit was net mooi sny en fyn kyk vir die galblaas, want o wee, as daar iets is wat jy nie moet raaksny nie, is dit nou daardie vuilgroen orgaantjie…!

Ek sal nooit vergeet nie hoe oupa naderhand bo-op die staanleer gebalanseer het, met sy arms vollengte agter die bultende binnegoed weggesink, terwyl ons ander al giggelend die binnegoed van onder af probeer stabiliseer… of so iets. Hoekom al die nonsens? Want die lawwe besigheid het agter die borsbeen vasgesit en… nou ja, kom ons erken dit maar: Oupa het bietjie vergeet hoe…

Lang storie kort, die vleis het niks oorgekom nie, geen vingers het in die slag gebly nie, en die galblaas is ongeskonde verwyder.

En daardie vleisies… het vorentoe gesmaak.

My Oupa is my held.

 

(Haai…!! ons mis julle vriendelike belangstelling

Kom loer gerus in by ons FB- groepie  https://www.facebook.com/groups/330819803958478/ )

 

 

 

 

 

Gepubliseer op

Die krag is af — die vrieskas vol. Wat nou?

Die krag gaan af — en bly af. Hoe nou gemaak met my vrieskas vol vleis?

Braai en eet alles op. ALLES. Nou. (Jy sal dalk vir die volgende paar weke nie vleis kan aankyk nie, maar dan is dit nou maar so.)

Hokaai! Dis nie nodig nie. Eet lekker, vir langer. Hier is ‘n paar goeie planne:

1. Gebottel

Maak die vleis in, in bottels. Ja, dis moontlik! Lees bietjie hier. Sorg net dat jy die regte gereedskap gebruik (ongelukkig kan dit bietjie lastig raak om ‘n ‘pressure-canner’ in SA in die hande te kry).

2. Gesout

So oud soos die berge – en glad nie moeilik nie. Vir beginners (soos ek), hier is ‘n oulike videobrokkie.

3. Gedroog

Dehidreer die vleis: sny dun repies, marineer en droog stadig teen ‘n lae hitte in die oond. Die yankees noem dit Jerky. (Jy kan glo ook ‘n elektriese- of son-droeër gebruik. )

4. Gevriesdroog

Een van die beste maniere om vleis te preserveer. Vangplek: jy moet ‘n vries-droër aanskaf – en dit kos amper ‘n arm en ‘n been. Maar wie nie waag nie, wen nie. (Amper enigiets kan gevriesdroog word).

5. Berook

Mense wat vleis berook, doen dit gewoonlik omdat dit so lekker is, eerder as om te preserveer. So dien dit ‘n dubbele doel. Dis nie eers nodig om ‘n duur apparaat te koop nie, bou sommer jou eie rook-oondjie. Chop-chop! (Wie sal my kom help?)

6. Ge-‘biltong’

Wie ken nou nie hierdie boere-lekkerny nie? Maar hier is ‘n skakel spesiaal vir die yankees.

7. Gepekel

Week jou vleisie in ‘n eenvoudige mengsel van water, sout en suiker (opsioneel) vir ‘n hele paar weke aaneen. Stoor daarna by kampertemperatuur (verkieslik ‘n koeler kamer). Geniet! Lees meer daaroor hier.

8. Ge-’vet’

Gebaseer op die beginsel dat die vleis wat geïsoleer word van bakteriee en suurstof lank goed. Ek weet dat die boeremense hierdie metode gebruik het – maar die kennis het sedertdien verlore gegaan. As jou ouma nog weet hoe, vertel ons, GROOT asb!

9. Rilette

Amper iets soos ‘n vleis-smeer, en baie lekker, glo ek. As dit op die regte manier gemaak word, kan dit tot ‘n maand hou. Gaan kyk bietjie hier.

10. Suikerstroop

Weereens, isoleer die vleis. Pak dit binne-in suikerstroop, seël die bottel en siedaar – die vleisies bly baie langer goed. Vir die wat hou van… soetvleis.

Julle is welkom om te kom saamgesels op ons FB-groepie oor hierdie fassinerende onderwerp.

Gepubliseer op

Bruin het nie geweet nie.

Ek moet erken – boerdery is nie vir sissies nie.

Hier het ons nou pas ‘n pragtige dier verloor – een wat vir ‘n bul gemerk was, want Bruin was regtig mooi – geen teken van siekte nie. Miskien het hy stadiger geloop, of pyn gehad erens – ons kon daar niks van bemerk nie. Net skielik…. dood.

Hy was nie siek nie. Maar sonder dat ons dit kon sien, was sy hartspier ernstig  aangetas. Want Bruin het ‘n giftige plant gevreet.

Ons het al vantevore diere aan gifplante verloor. Mens raak dit nooit gewoond nie. En jy werk hard om te keer dat dit weer gebeur. Spandeer sekere tye van die jaar lang ure in die veld om gifplante uit te kap met die hand, want om gif met gif te bestry maak net nie sin nie.

Dit voel partykeer asof mens se lewe draai om gif of nie gif nie. Reg eet of nie reg eet nie. As mens praat van GIF, kom die prentjie op van ‘n klein bruin botteltjie met ‘n etiket. En die klassieke doodshoof-prentjie wat ernstig waarsku: GIF!

Maar in die tyd wat ons leef kom gif dikwels in die vorm van heel onskuldige preserveermiddels, geurmiddels, kleurmiddels. Alles wat kos LEKKER laat ruik, lyk en smaak. En lank laat ‘goed’ bly op die rak. Geen etiket wat waarsku GIF nie. Geen doodshoof-teken nie. Jy kan eet en geniet, tot die laaste happie, sonder om te besef wat jy jouself aandoen. Soos hierdie arme dier.

Gif is mos soos ‘n dief in die nag. Hy doen sy vernietigingswerk in die donker, wanneer die wagters op hul wagposte gaap en die poorte oopstaan. Gif in kos? Wie gooi nou gif in kos? Wie wil nou wins maak uit ‘n ander een se ellende?
En dan die ironie van ons beskaafde wereld – dat ons gif met meer gif wil bestry. Pille op pille op nogmaals pille.

Gif akkumuleer. Die hartspier (senuweestelsel, endokriene stelsel…) raak onherroeplik beskadig, en onderdrukkers en pynpille het weldra geen effek nie. Die arme liggaam kan eenvoudig nie meer ‘n druppel GIF hanteer nie….

Arme Bruin. Hoe moes hy ook nou weet.

WEES INGELIG oor wat jy eet.

Gepubliseer op

Hoeveel sterte het ‘n vis?

Een aand toe ons aan tafel sit, vra my jongste uit die bloute:

“Ma, hoeveel sterte het ‘n vis nou eintlik?”

Ek sit gewoonlik die ‘stertjie’-deel in haar bord, want dit het mos nie grate nie. En as daar nog ‘n stukkie oor is, kry sy dit ook (kyk, my kind se eetlus het nog nooit iets makeer nie, behalwe as sy rerig siek is). So dit moes vir haar gelyk het asof ‘n vis meer as een stert moet he. Die liewe kleinding.

Wat my nogal aan die dink gesit het.

Hoe verstaan ons kinders vleis? Plaaskinders leer van kleins af – daardie dier wat in die veld loop en wei, kan more dalk slagpale toe ry – dit is waarvoor hy daar is – om mense te help voed.

Maar met stads- of dorps-kinders is dit nie sommer die geval nie. Hier rondom die ouderdom van 3 of 4  jaar kom hulle skielik tot die skokkende besef dat die stukkie vleis op hul bord eens pote (en stert) gehad het. Dit kan nogal traumaties wees vir so ‘n sensitiewe klein sieltjie. En lei tot baie vrae.

“Hoekom maak ons diere dood? Hoekom eet ons vleis? Hoekom?”

Waar begin mens?

Ek dink die beste is, begin by voeltjies. Wat eet ‘n voeltjie? Wurmpies! Dis hulle kos.

Wat eet ons? Eiers. Maar wat is ‘n eier anders as ‘n hoender? Dis ook maar vleis. EN dis goeie kossies.

Beeste eet gras, wat ons nie kan eet nie, maar ons kan vleis eet. Meer nog, ons het dit regtig, egtig nodig. Dit maak ons spiere sterk, dit laat ons groei (en wie wil nou nie groei nie, veral as jy 3 jaar oud is ) en… dit gee ons baie energie.

Arme diertjies? Nee, nie arme diertjies nie, solank daardie diertjies ‘n gelukkige lewe gelei het op ‘n pragtige boereplaas, en goed versorg is deur ‘n gawe boer, en op die regte manier geslag is (vinnig en pynloos), is daar niks om oor sleg te voel nie.

Wanneer moet ons sleg voel? Aha! Ek dink dáár is baie stof vir sinvolle gesprekke. Dink net ‘Factory Farming’ en ‘GMO’…

Ek dink ons moet ons kinders reeds van kleins af leer om verantwoordelik met hul kos om te gaan.

(En onthou: ‘n bees het net een stert. 😉 )