Gepubliseer op Maak 'n opmerking

‘n Plan is ‘n Boerdery.

Januarie is die maand vir goeie voornemens – nou ja, hier is ons s’n:

Om nie ons ore aan enigiemand uit te leen nie. Ons het jare gelede 5 van ons beste, sterkste vrugbaarste koeie verkoop op openbare veiling. Hoekom? Want hulle het draadgespring. Vandag weet ek, die beste koeie sorg vir hulself. As hulle draadspring, kyk ek anderkant toe, of skuif die hele trop oor. Partykeer kan welbedoelde raad groot skade aanrig – in ‘n boerdery, in elk geval.

Om nie ou koeie uit die sloot te haal nie. Gedane sake is geskiedenis. Dit het gebeur, en die beste wat mens nou kan doen, is om vorentoe nie dieselfde fout te maak nie. Bella kan nie weer teruggebring word nie, maar ons het gelukkig nooit vir Belladonna verkoop nie – nog ‘n geswore draadspringer. En sy gee steeds pragtige kallers – maak nie saak of sy binne die kamp of daarbuite is nie.

Om die bul by die horings te pak. Amper al genl. Koos se kallers het met pienk neuse in die wereld gekom – en dit beteken swak pigmentasie, wat weer lei tot geneigdheid tot sonbrand. Hy was so ‘n mooi bul, sonder enige probleme, maar op die ou end moes ons maar die besluit neem, en hom EN sy kinders verkoop. Moenie uitstel om ‘n fout reg te stel nie.

Om die sukkelaars dubbel kans te gee, want agteros kom ook in die kraal. Moenie sommer moed opgee as iets lyk of dit reg wil kom nie. Daardie koeitjie met die ontsteekte oog, die versie wat haar been beseer het, die hanskalfie met die boepens – het almal op die ou end die paal (of die kraal) gehaal. Aanhouer wen!

Hoe sê hulle?

‘n Plan is ‘n Boerdery.

Alles van die beste vir 2019.

Nguni-koeie in die groen veld saam met wit reiers.
Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui