Gepubliseer op

Vinnig, lekker EN Goedkoop.

Wie van ons het nog tyd vir regtig lekker eet? Ag, selfs eenvoudige etes raak haas onmoontlik. Ons kom dan eers na donker tuis – en dan nog kos opsit?

Maar moenie moed opgee nie — die geheim is: vinnig, lekker EN goedkoop. 😉

  1. Tyd-besparend met so min as moontlik tyd voor die stoof deurgebring.
  2. Geurig maar ook sappig en sag genoeg.
  3. Meer vir minder — snitte soos borsstuk, kookvleis of skenkel.

KAN goedkoop snitte vinnig EN lekker gaargemaak word? Maar natuurlik! Kom ek vertel jou bietjie:

* Dis waar, tydsduur, manier van kook en snit is belangrike bepalende faktore. Maar as jy jou stoompot (of ‘slow cooker’) inspan, kan jy verseker wees jou vleisie sal beide sag en sappig wees, maak nie saak watter snit jy gebruik nie.

* Jy besit nie een nie? Mens, hoe kom jy deur die lewe? 😉 Glo my, dit is ‘n belegging wat jy nie sal berou nie. Sodra die pot op stoom (of prut) is, gaan hy op sy eie aan. ‘n Stoompot kan op lae hitte voort stoom en vir die laaste halfuur kan jy selfs die stoof heeltemal afskakel.

*  Marineer daardie kookvleisie — dis NIE net braaivleis wat gemarineer kan word NIE. Pak jou vleisies in marinade in die yskas, ‘n dag voor jy dit wil gaarmaak, en kyk bietjie wat gebeur.

* Van marinade gepraat — Appelasyn maak enige potjie stowe-vleis vinniger sag, en dra baie by tot die smaak. En wat van ‘n paar lepels heuning op die koop toe? Probeer dit bietjie…

* In daardie taaier, goedkoper stukkie vleisie is ‘n bykomende stel voordele  opgesluit – want senings is ryk aan kollageen, en bene bevat minerale en gelatien – dinge waarsonder mens eintlik nie kan klaarkom nie.

* Saterdag se Braai? Wie het gesê ons mag net kook? Probeer bietjie Dikrib (Chuck) vir goedkoper braai — enige tyd net so lekker as T-been of Kruisskyf (Rump). (EN marineer, meneer!)

Vinnig, lekker, goedkoop en RYKER!

Nog ‘n stukkie? 😉